Paarl klop Albions
2007-05-24
DIE eerste span van Paarl Rugbyklub het verlede Vrydag in 'n naelbyt derby 8-7 met Albions afgereken by Faurestraat-stadion.
Die vloei van die spel is grotendeels deur die fluitjie van die skeidsregter vertraag met altwee spanne wat dit moeilik gevind het om tweede fases te bewerkstellig en te benut.
Ten spyte van gemoedere wat nou en dan vlamgevat het tussen dié twee tradisieryke klubs, het die agterlyne maar min speelkans gekry terwyl die stryd om dominansie grootliks onder die voorspelers geskied het.
Albions kon egter 'n groter impak op die wedstryd gehad het indien Dominic Daniels (losskakel) sy skopskoen aangehad het. Altwee spanne het een drie gedruk, maar dit was egter skoppe wat die uiteinde van die wedstryd bepaal het.
Ryno van Wyk (skrumskakel) het 'n drie vir Paarl gedruk en Clive Samuel (heelagter) het met 'n strafskop geslaag.
Vir Albions het Christopher September (vleuel) agter die doellyn gaan draai met Daniels wat dit verdoel het.
* Ander uitslae: Paarl II wen 24-7, Paarl III wen 15-12 en Paarl o.20 A wen UCT B 8-3.
More
News
|