Hoop begin met een vlam
2007-05-24
DIE Projek Handevat is ’n projek geloods deur die ATKV, om die jeug bewus te maak van die probleem van Vigs-wesies, om uit te reik en liefde en gemak aan kinders te gee, om hul kwesbaarheid ten opsigte van MIV/Vigs te besef.
Die Lewensoriëntering-leerders van Klein Nederburg Sekondêr en La Rochelle Hoër Meisieskool met opvoeders Dalene Olivier en Hillary Jacobs het aan die projek deelgeneem.
Drs Nelis Grobbelaar en Madri Carstens het opgetree tydens die projek wat vanaf 2006-2007 geloop het.
Die skole het ook ’n vennootskap met die Helping Hands (tehuis vir Vigs-wesies) van Priscilla Simons in Carterville, Wellington, gesluit vir die duur van die projek en leerders wat deelgeneem het, het benewens besoeke en hulp by die tehuis, ook donskombersies gemaak wat deur die tehuis gebruik kan word.
Die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) het ook betrokke geraak en ’n werkswinkel aangebied wat die leerders se waardes, houdings en ingesteldheid teenoor MIV/Vigs aangespreek het.
’n Tussentydse evaluering is in November verlede jaar deur Izelle Gouws van die ATKV gedoen en leerders het gereelde verslae gehou. Onlangs het die finale evaluering deur twee onafhanklike beoordelaars by Klein Nederburg plaasgevind en op Woensdag 9 Mei was ’n praatjie oor Radio KC uitgesaai waar leerders van die twee skole oor hulle ervaringe gesels het.
Hulle het plaaslike inwoners uitgedaag om betrokke te raak by MIV/Vigs in die Paarl-Wellingtonstreek.
Die projek het sy hoogtepunt bereik met die inwyding van Helping Hands deur ds Stephen Snyman van die Calvynse Kerk.
More
News
|