Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Museum se geld geweier

Museum se geld geweier
 
2005-05-26


DIT is soos ’n skoot koue water in die gesig, die nuus dat die Drakenstein Burgemeesterskomitee besluit het om nie in die nuwe boekjaar geld beskikbaar te stel vir uitbreidings by die Wellington Museum nie, sê Riana Engelbrecht, voorsitter van die trusteeraad.

’n Bedrag van R200 000 is vir die museum aanbeveel na afloop van die GOP-begrotingsvergaderings met die gemeenskap, maar ná hewige debatvoering weggeneem en toegewys aan toilette op Hermon.

Johan von Wielligh, trusteeraadslid en ook Drakenstein raad se verteenwoordiger by die Museum, sê die versoek het ter sprake gekom by sy wyk (Wyk 18) se vergadering.

“Dit was die enigste versoek met finansiële implikasies van my wyk, en ek het dit so oorgedra aan die burgemeester en bretrokke amptenare.”

Riana sê sy het begrip daarvoor dat openbare toiletgeriewe ’n noodsaaklikheid is.

“Maar ’n mens moet holisties hierna kyk en nie net na basiese behoeftes nie.

“As ons die probleme in die land wil oplos, sal ons moet kyk na ontwikkeling en dan is kultuur hoog op die lys.”

Die eerste aansoek vir uitbreidings by die Wellington Museum dateer van 2003.

Planne is reeds opgetrek vir ’n vertrek van 80 vkm. Die Museum is besig met die transformasie van die uitstallings om sodoende die kultuurgeskiedenis van die totale gemeenskap van Wellington uit te beeld.

Deel van die nuwe uitstalling is oudio-opnames van gesprekke met gemeenskapsmense.

Dr Etienne Smit, trusteeraadslid, sê die museum-versameling was in die verlede baie Westers georiënteerd, hoofsaaklik omdat dit deel van ’n bewaringskultuur is.

“Nou het die klem verskuif en die museum het ’n versamelplek vir die hele gemeenskap, ’n kultuursentrum, geword.”

’n Museumforum het in 1996 besluit om ’n navorsingsprojek aan te pak om die geskiedenis van Wellington en distrik te boekstaaf asook die uitstallings daarvolgens op te gradeer en aan te pas.

Die boekstawing van die geskiedenis van Wellington en distrik is reeds afgehandel asook die installering van die eerste fase van die transformasie-uitstalling.

Die opgradering en transformasie van die uitstallings word deur die Departement Kultuursake en Sport behartig en gefinansier.

Die tweede fase van die transformasie-uitstallings open binnekort en om voort te gaan met die gemeenskapsaktiwiteite het die museum dus ’n behoefte aan ’n bykomende lokaal.

Ansie van Vuuren, kurator, sê intussen word een van die lokale vir kulturele aktiwiteite en opvoedkundige programme benut.

Sy meen die museum verskaf ’n waardevolle opvoedkundige diens aan skole, veral plaasskole, van die distrik.

“Ons bied heelwat uitstappies, geborg deur die Vriende van die Museum, aan ons plaasskole.

“Hierdie kinders gaan feitlik nooit êrens heen nie en ’n mens sou dink dit behoort ’n prioriteit vir die stadsraad te wees om sulke programme te ondersteun.”

Ansie vertel dat hulle reeds op die oomblik, in samewerking met Natuurbewaring, besig is met ’n voël-projek by Mbekweni skole.
Hulle het ook ’n Bainskloof rotskuns-program, in samewerking met Cape Nature.

Die museum neem die afgelope paar jare skole op die Edutrain na Kaapstad en tree ook op as gasheer vir Kaapse skole.
Vir nasionale museumweek het Ansie ’n poppekasvertoning, ‘Jou onsigbare erfenis’, aangebied.

Soms het skole nie die vermoë om die Museum te besoek nie. Dan huiwer Ansie nie om, soos onlangs met Bosplaas Primêr, die uitstalling in haar motor te pak en dit by die skool vir die kinders te gaan wys nie.

Ansie sê die bestaande ruimte by die museum sal binne ’n jaar nie meer beskikbaar wees vir gemeenskapsaktiwiteite nie.

Riana, voorsitter, sê die gebruik van die museum as kultuursentrum het tot gevolg gehad dat die totale gemeenskap van Wellington spontaan en natuurlik betrokke geraak het daarby.

“Deurdat die gemeenskap gereeld die museum vir buite-vergaderings gebruik, raak hulle geïnteresseerd in die museum self.

“Baie raak só betrokke by die Vriende van die Museum en so genereer ons weer geld om dienste vir die res van die gemeenskap aan te bied.”

Onder die kultuurverenigings wat daar vergader, is die ATKV, Wellington Jeugbrigade, die Khoisan-raad, leeskringe en die Vriende van Bainskloof.

Daar word ook gereeld kunsuitstallings gehou en baie kunstenaars, soos George Meyer, het hulle deurbraak hier gemaak.

Die museum bied elke jaar ’n program aan om mense of verenigings te vereer wat “verby die grense” gegaan het.

Mense en organisasies wat reeds vereer is, is Breyten Breytenbach, Adam Small, Abdullah Abdurahman, PH Nortjé, Horace Coaton, die Retiefs van Wellington, die klopse van Wellington, Valiant Swart en Wellington se eie hertogin, Martha Solomons.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za