Paarl hengelaars blink uit vir Boland
2005-03-09
HENGELAARS van die Paarl Kushengelklub het goed gevaar tydens die onlangse B-span nasionale toernooi wat deur die SA Seehengel Vereniging aangebied is.
Die Paarl hengelklub het agt lede in die Boland se B-span gehad wat in Oos-Londen teen 12 van die 14 provinsies meegeding het.
Die Boland het goed gevaar, met drie van die spanlede wat uit ’n groep van 144 onder die top 20 hengelaars geëindig het.
Tony Kruger het die beste gevaar deur die sewende plek te beklee. Brian Crozier (20ste) en Gert Grove het ook goed gehengel.
Die Boland-span het algeheel vyfde geëindig, met 6,6 ton vis wat deur al die hengelaars oor die drie dae gevang is.
Kruger is gekies as eerste reserwe vir die President B-span. Ses lede van die klub is ook in die Boland A-span opgeneem wat die naweek aan die SA Kampioenskappe in Port Elizabeth deelgeneem het.
Hengelaars Morné Esterhuizen, Jacques Malherbe, Jonathan Stott, Charl Marais en Tony Kruger het gewys wat in hul steek, terwyl Okkie Gerber as spanbestuurder aangewys is.
Die span het 1,17 ton vis gevang in die toernooi en vierde algeheel geëindig.
Boland het drie hengelaars onder die top 10 gehad, Quinton Catherine was tweede algeheel, Johan van der Westhuizen (negende) en Charl Marais (tiende).
Marais het ook die beker gewen vir die meeste vis, 21. Die vaardige kookvernuf van Muis Coetzee het ook grootliks daartoe bygedra dat die Boland-span heerlik geëet en gevolglik ewe goed langs die viswaters gevaar het.
Twee lede van Boland, Pieter-Paul Mong en Van der Westhuizen, is ook in die SA Ontwikkelingspan opgeneem.
Jacques Malherbe is as eerste reserwe gekies van die span. Die Boland-span het ook die beker gewen vir die beste vordering.
* Tydens die onlangse ligabyeenkoms by Arniston/Waenhuiskrans het Paarl se A2 span die dag gewen. Die Paarl se beste hengelaars was, Johan Malherbe met 59,8 punte, Arno Dames (59,2) en Johan la Grange (49).
More
News
|