Wakker geklop ná inbraak
2005-05-26
DEUR die slaap inwoners van Courtrai is Woensdag verlede week een na die ander deur polisiemanne wakker geklop, om te hoor dat daar by hulle huise ingebreek is.
Pieter Heyns van Flambeaustraat-Suid het die nag opgevlieg toe sy honde geblaf het. Sy bakkie is die vorige week die oggend 04:50 uit hul oprit gesteel en hy slaap nou ligter.
Dié keer het hy dadelik die polisie geskakel en in die polisiestasie aan die Bergrivier Boulevard het insp Chris Pietersen gesorg dat Courtrai binne minute die ene rep en roer was.
Kapt André Roziers, insp Anglio Pietersen en konst Elton Petersen het die strate in sterk wind en gietende reën gepatrolleer.
Toe hulle kort voor 02:00 ’n man ’n blou Raleigh bergfiets sien stoot met ’n groot blou seilsak oor die handvatsels, het hulle hom genader.
Die verdagte het die fiets laat val en oor ’n muurtjie gespring, met konst Petersen kort op sy hakke. Insp Pietersen het hulle in die Hoofstraat ingewag, met kapt Roziers wat die agterhoede gedek het. “Dit het so 40m se harde hardloop gekos, toe het ons hom,” vertel die konstabel.
Tussen die dief se buit was ’n radiokassetspeler, gereedskap, klere en vleis.
Die polisie is terug na die Heynse se woning, waar daar toe eers vasgestel is dat daar by sy motor ingebreek is.
Vier ander motorhuisdeure in Flambeaustraat het of oopgestaan, of die slotte was afgebreek.
“Die inbrekers is by ons hond verby,” het buurvrou Beatrix Nolte gesê. “Ons het wakker geword van die lawaai buite en toe is dit drie polisiemotors. En hier lui die voordeurklokkie.”
Saam het hulle vasgestel dat ’n motorruit stukkend geslaan was, die radio-kassetspeler gesteel is, gereedskap weggedra is, en ’n mandjie vol vleis uit die vrieskas gepak is.
“Hulle was deur ons huis sonder dat ons iets gehoor het. In die braaikamer het hulle tot die kissie met my ma se as in die braaiplek neergesit,” sê Beatrix.
Daar is die volgende dag vasgestel dat ook die fiets in Flambeaustraat in dieselfde gebied gesteel is.
Willem Cornelissen (28) van Kraaifontein, is van huisbraak aangekla. “Daar moes meer as een gewees het, en dalk ’n voertuig om die goed weg te ry,” het Beatrix gesê.
“Dis die baie gebouery in Courtrai wat maak dat hier soveel ongure karakters rondloop en rondkyk,” meen inwoners.
Volgens polisiebeamptes maak die ligging aan die N1 vir voertuie, en die nabyheid van die Paarlstasie vir voetgangers, dié woonbuurt ’n teiken vir misdadigers.
* Burglars have targeted a number of houses in Paarl South.
More
News
|