Tekort aan spelers knou Wellington
2007-05-31
DIE span van Wellington Rugbyklub het die afgelope naweek hul rieme styfgeloop tydens hul wegwedstryd teen Worcester Villagers.
Die Wellingtonners het gedurende die eerste helfte hul hande vol gehad met die tuisspan wat teen rustyd reeds 39 punte aangeteken het. Hierteenoor het die besoekers slegs een verdoelde drie gedruk.
Wellington het in die tweede helfte meer doelgerig begin speel. Hul verdediging was beter en hulle het met nóg twee verdoelde drieë geslaag.
Die twee spanne het voorlangs goed teen mekaar opgeweeg, maar dit was Worcester wat met hul blitsige agterlyn die septer geswaai het.
Bygesê, Wellington het die wedstryd sonder veertien van sy gereelde staatmakers begin wat die leemte in hul agterlyn veroorsaak het.
Ongelukkig was die agterstand van die eerste helfte net te groot en Wellington het die wedstryd met 49-21verloor.
Jacques Meyer (2) en Chris Joubert het Wellington se drieë gedruk terwyl Theuns Schoeman (2) en Marnus Hugo dit vervyf het.
Verder het Wellington II en Wellington III onderskeidelik 13-7 en 12-5 verloor.
* Wellington speel Saterdag ’n tuiswedstryd teen Roses United. Die hoofwedstryd begin om 16:00.
Die bekende geselsprogram, SuperRugby, word 18 Junie by die plaas Welbedacht (Schalk Burger) op Wellington uitgesaai. Vir meer inligting, skakel Dolf Stemmet by 083-303-0960.
More
News
|