Newton kou appelboere
2007-05-31
DIE voorspelers van Newton Rugbyklub het verlede Saterdag die oorhand gehad in hul tuisoorwinning van 17-12 teen Ceres United.
Die wedstryd het teen ’n geweldige tempo plaasgevind met die besoekers se agterlyn wat met puik spel vorendag gekom het.
Dit was egter die verdediging van die Wellingtonners wat die verskil gemaak het, aangesien die manne van Ceres net met vier strafskoppe kon slaag.
Newton se kookwater losskakel, Christo Fransman, het ’n groot impak op die spel gehad. Hy het ’n skitterdrie gedruk nadat sy voorspelers ’n netjiese gaping vir hom bewerkstellig het. Verder het hy sy eie drie, asook dié van sy kaptein, Roderick Lovelot (haker), verdoel en ook met ’n strafskop geslaag.
Heiko Jacobs (slot) het waardevolle werk in die lynstane verrig met Delwayne Baron (agtsteman) wat gereeld oor die voordeellyn gedryf het met sy stormlopies.
Newton II het ’n groot, gemaklike oorwinning behaal deur 29-0 met die Ceres-manne klaar te speel. Newton III het ook geen moeite gehad om 15-0 te wen nie.
* Newton se volgende twee wedstryde is teen Wolseley Rugbyklub (Saterdag) en Ashton United (9 Junie). Altwee kragmetings sal tuis (Newtonpark) plaasvind.
More
News
|