Kaap Agri omset styg
2007-05-31
DIE omset van die landboumaatskappy Kaap Agri, het met 24% toegeneem volgens resultate vir die ses maande tot 31 Maart 2007. Indien die omset van nuwe verkrygings buite rekening gelaat word, was die toename 18%.
Die netto wins uit bedrywighede, na belasting en rente, was 34,2% hoër op R49,9 miljoen. Die grootste bydraer tot die wins was die handelswinkels wat 75% van die totale winste bygedra het.
Kaap Agri se aandeelprys het die afgelope paar weke geleidelik toegeneem tot oor die R7,00 per aandeel.
Pioneer Voedsel, in wie Kaap Agri ‘n belang van 22% hou, se wins het gedaal met 9%. Pioneer Voedsel het onlangs aangekondig dat hy dit oorweeg om op die JEB te noteer.
Notering beteken nie noodwendig ‘n hoër aandeelprys nie, maar, volgens James Matthee, Finansiële Direkteur, sou dit gebeur, behoort dit ook ‘n positiewe uitwerking op Kaap Agri se aandeelprys te hê.
Desnieteenstaande die daling in Pioneer Voedsel se wins, was die Kaap Agri Groep se totale ge-ekwiteerde wins steeds 9% hoër as die ooreenstemmende periode op R93,1 miljoen.
Volgens Corwyn Botha, Besturende Direkteur, is Kaap Agri se resultate behaal in ‘n landbou-omgewing wat as “normaal” beskryf kan word.
Die afgelope graan-, vrugte- en druiweoeste was van gemiddelde kwaliteit en opbrengs, en pryse was beter as in die vorige seisoen.
Sekere bedrywe, waaronder veral wyndruiwe, ervaar egter groot prysdruk weens ‘n ooraanbod plaaslik en internasionaal.
Vooruitsigte lyk tans goed met uitstekende weersomstandighede tot dusver in aanloop tot die komende oes.
Die Voorsitter, George Eksteen, het terselfdertyd aangekondig dat dr Mohammed Karaan, tot hede Groepbestuurder: Sake-ontwikkeling van Kaap Agri, aangestel is as ‘n Uitvoerende Direkteur van Kaap Agri.
Dr Karaan is reeds sowat agtien maande deel van Kaap Agri se bestuur. Hy is ook Voorsitter van die Bemarkingsraad en welbekend in landbou- en akademiese kringe.
Kaap Agri het ook aangekondig dat hy beoog om binnekort sy maatskappystruktuur te vereenvoudig en sy statuut te wysig om onder andere beperkings op aandeelhouding te skrap.
More
News
|