Gemoedere hoog in raad
2007-05-31
May Saal
GEMOEDERE het tydens die raadsvergadering van die Drakenstein Munisipaliteit, verlede week Woensdag, hoog geloop tussen raadslede uit verskillende politieke partye.
Raadslid Dan Kotze het aangevoer dat die ANC komponent van die Raad ongelukkig is met die aanstelling van Johan Visser as hoof van die Sosiale en Landelike Ontwikkeling op die Burgemeesterskomitee.
“Hy sit mense van plase af. Hoe kan hy dan in so ’n posisie wees?” wou Kotze weet.
Die speaker, Solomon Ross, het die vergadering meegedeel dat hy nie lank voor die vergadering ’n skrywe ontvang het vanaf die Western Cape Community (WCC) waarin hulle die Raad in kennis stel dat raadslid Philmon Maxam nie geskors is as raadslid en as lid van die party nie.
“Sekondes daarna het ek ’n skrywe ontvang dat hy wel geskors is. Dit is in elk geval ’n party-aangeleentheid waarby ek my nie wil inlaat nie,” aldus Ross.
“Ek stel voor dat die speaker met die spesifieke politieke party kommunikeer en dan die aangeleentheid uitsorteer,” was raadslid Arthob Petersen se voorstel.
Maxam het heftig reageer dat hy tot dusver geen kommunikasie vanaf sy party ontvang het nie. “Dus behou ek my posisie,” het hy sterk beklemtoon.
Die voormalige burgemeester, Charmaine Manuel, wou weet wat die DA se vrese is rakende die aangeleentheid, dat hulle dit nie wil bespreek nie.
’n Besluit is geneem dat die speaker ’n skrywe sal rig aan die WCC en dat die aan-geleentheid dan tydens ’n volgende vergadering hanteer sal word.
Nog ’n item op die agenda wat groot aandag geniet het, was die aanbeveling dat ’n erf in Wellington beskikbaar gestel moet word om verkoop te word aan Pacmar.
Volgens die burgemeester, Koos Louw, is dit belangrik dat hierdie aanbeveling so spoedig moontlik goedgekeur word, want anders sal die raad die kliënt verloor.
Nie alle partye het saamgestem nie en daar is besluit om ’n ondersoek in te stel.
Dié aangeleentheid is by die begrotingsvergadering op Dinsdag 29 Mei gefinaliseer toe daar eenparig besluit is deur raadslede dat die grond wel afgestaan sal word aan Pacmar op die voorwaarde dat die maatskappy binne ses maande aan Swart Bemagtitingstatus sal voldoen.
More
News
|