Nag van gruwels
2005-05-26
Malané Bosman
ONBEWUS daarvan dat die polisie op pad was om die pa van haar tweejarige dogter vir die verkragting en moord van die meisietjie te arresteer, is Rozanne Chordnum Saterdag by die Paarl Hospitaal in haar hartseer deur hom bygestaan.
Shaun Arendse (21) van Impalastraat 20, Chicago, bly in aanhouding in die Allandale Gevangenis nadat hy Maandag in die landdroshof verskyn het op aanklagte van moord, verkragting en onsedelike aanranding.
Rozanne het reeds saam met haar ouers uit Paarl-Oos na Eersterivier getrek en was in graad elf toe sy swanger geword het. Sy het in 2002 haar dogter in die lewe gebring en daarna haar belofte aan haar ouers, om matriek te maak, gestand gedoen.
Rozanne was Saterdag by ’n hospitaal in Wynberg vir haar verpleegstudies toe die dogtertjie aan ’n geskeurde lewer en ander inwendige beserings gesterf het.
Klein Cameron Chordnum het Donderdag gesê sy wil soos elke naweek by haar “dadda” in Chicago gaan kuier. Shaun het die trein gehaal, en sy dogtertjie na sy ouerhuis gebring.
Die Vrydagaand is hy saam met sy suster Simone en vriende na ’n kuierplek in Paarl-Oos. Hulle het die nag so 03:30 tuis gekom, na bewering onder die invloed van drank.
Die jong pa het sy kind agter sy ma se rug gaan haal en na sy slaapkamer met eie buitedeur na die werf, geneem. Iewers deur die nag is klein Cameron verkrag.
Die oggend om 10:45 het Shaun sy ma geroep omdat Cameron leweloos in die bed gelê het. Hulle is dadelik na die Paarl Hospitaal, waar sy dood gesertifiseer is.
In die huis waar Cameron die gruwelnag deurgebring het, is die Arendse gesin vandag stomgeslaan.
“Shaun was mal oor sy kind,” het sy suster Cheryldene gesê. “Niemand mag aan die kind geraak het nie. Ek het hom by die tronk besoek en hy sweer dit was nie hy wat haar vermoor het nie. Hy sê hy gaan die een wat dit gedoen het, doodmaak.”
Shaun het aan Charleston Hill Sekondêr gematrikuleer en daarna ’n chef-kursus in Kaapstad gevolg.
“Hy is ’n lieflike seun,” het sy ma, Winnie, in ’n bewerige stem gesê. Sy sit sedert die skokdood verwese op haar bed.
“Shaun maak so graag vir ons kos en hy het sulke goeie maniere. Ek kan nie glo dat hy so iets sou kon gedoen het nie.”
Die uitslag van vel-, haar en semenmonsters wat van die beskuldigde geneem is, sal bepaal of Cammy se eie pa haar vermoor het.
Shaun was Maandag teruggetrokke en stil in die beskuldigdebank. Hy het op navraag van die landdros geantwoord dat hy eers met sy ma moet praat voordat hy kan sê of hy ’n regsverteenwoordiger sal aanstel.
Die landdros het hom daaraan herinner dat lewenslange gevangenisstraf opgelê kan word indien hy skuldig bevind sou word. Die saak is tot Maandag uitgestel.
Intussen rou Cameron se ma en haar ouers, Willie en Rosetta Chordnum, stil oor hul “sonstraaltjie”. Die dogtertjie het by hulle in Pine Place, Eersterivier, grootgeword.
“Almal was lief vir haar. Sy was so bekkig. Cammy het alles gepraat, soos wie wat gedoen het, hoe haar dadda vir haar mammie in die nek gesoen het.
“Ons mis haar verskriklik.”
Die tuisdiens is Sondag om 09:00 in die Chordnum familie-woning te Ribbokstraat 63, Chicago, met die gedenkdiens om 10:00 in die Sewendaagse Adventiste Kerk in Strelitziastraat, Klein Nederburg.
“Ons was so gewoond aan Cammy wat elke naweek by ons gekuier het,” het ouma Winnie gister gesê.
“Shaun wil so bitter graag by sy kind se begrafnis wees, maar ons weet nie of hy sal mag uitkom nie.
“Ons moet nou maar vorentoe kyk.”
* A young Paarl East father has been accused of killing his baby daughter.
More
News
|