Vlugvoetig en manhaftig
2007-05-31
Malané Bosman
SY’S fyntjies, maar vlugvoetig, en sy staan haar man (of is dit nou vrou) dubbeld en dwars op die muurbalbaan.
Dis Lizane Vlok, die Paarl Muurbalklub se nommer een vrouespeler, en op hierdie oomblik is sy op die baan besig om haar land te verteenwoordig in Maleisië.
Lizane (16) wou eintlik glad nie muurbal speel nie, vertel sy. Maar dag na dag was sy langs die baan terwyl pa Nickie, ma Corlia en ouboet Nico hul staal op die Paarlse muurbalbane gewys het.
Sy was maar agt jaar oud, toe daar die Desembervakansie van 1989 ‘n rondomtalie aangebied word en Lizane besluit het, nou trek sy ook haar tekkies aan.
Ses maande later het sy die Bolandspan gehaal en van toe af is dit net tennis - ook provinsiaal - en muurbal.
Skoolwerk? “O, nee,” kom die antwoord vinnig.
En seuns? Dit word met ‘n hartlike gegiggil, en nog ‘n “O, nee, daar is nie nou tyd nie,” beantwoord.
Vandag is Lizane Suid-Afrika se nommer drie o.19 junior vroue muurbalspeler. Nommers een en twee is meisies van Gauteng.
Verlede week is die SA o.19 skolespan vir 18 dae na Maleisië, waar hulle in twee kampioenskappe sal speel, in Kuala Lumpur en in Penang, asook ‘n wedstryd teen Singapoer.
In Augustus is dit weer tyd vir taspak. Dan vertrek Lizane saam met die SA vroue juniorspan na Hong Kong vir die Vroue Junior Wêreldbyeenkoms.
Haar pa speel nog altyd muurbal, en “hy wen”, lag Lizane trots. Haar ma is bestuurder van die Paarlse muurbalklub en Nico is die klub se gewilde nommer vier manspeler.
“Muurbal is so lekker. Jy ontspan. En natuurlik, dan hoef ek nie skoolwerk te doen nie.”
Lizane het net een doel voor oë: “Ek wil dit my werk maak. Ek wil ‘n professionele speler wees en ‘n afrigter word.”
More
News
|