Genade tog die polemiek
2007-05-31
GENADE tog! Dis al wat ek kan sê as ek die streekspan-polemiek in die pers volg. In 1992 wou die destydse Paarl-liga as unie in die nuwe bedeling speel, maar Westelike Provinsie het botweg geweier en gesê dat hulle nie ‘n unie binne ‘n unie sal toelaat nie. Wat het verander? Gaan daar te veel geld na die spelers en afrigters dat daar nou niks oorbly vir die klubs nie? As WP dus dertien klubs onder een sambreel in Daljosafat kan inprop, sal die begroting mos mak-liker klop.
Aan klubs wat hul eie pad wil loop, dis julle keuse. Niemand kan julle dwing om spelers beskikbaar te stel nie. Laat dié wat so dreig hulself identifiseer, dan weet julle wie om te dagvaar.
Aan die manne wat die streekspan dryf, maak seker al die ander streke kom ook op die been voordat julle alleen op ‘n eiland sit. Dink julle regtig Maties en Vics gaan in ‘n Stellenbosch-span speel?
Laat WP self riglyne vir streekspanne neerlê en almal verplig om daarin te speel, selfs klubs soos Maties, Hamiltons. Dis regverdig of hoe? Of is ons nog steeds bereid om as ontwikkelende klubs en spelers bekend te staan? Van ons klubs is meer as 100 jaar oud. Waar is ons trots? Waar is die wil om te wys dat ons onafhanklik kan funksioneer?
Trevor Davy
More
News
|