Klok lui vir Paarl Streekspan
2007-05-31
DIS duidelik daar is baie mense wat hulle oor die Paarl Streekspan wil uitspreek, maar nie weet wat agter die skerms aangaan nie. Die gesegde “het die klok hoor lui, maar weet nie waar die bel hang nie” is so waar, ook in dié geval.
Die WP Unie se Superliga is semi-professioneel en om in hierdie liga mee te ding moet ’n klub finansieel sterk wees. Spelers van Paarl en Wellington verkies Kaapse klubs omdat hulle meer per wedstryd ontvang, in sommige gevalle ’n salaris verdien asook wenbonusse. Indien ons klubs finansieel daartoe in staat was, sou dié spelers nog hier uitgedraf het.
Kaapse besighede wat hulle as borge verbind, speel met groot hoeveelhede geld om ons spelers by hulle klubs te betrek. Plaaslik is daar te veel klubs en besighede hier kan kwalik hulself tot almal verbind.
Dit blyk ’n probleem vir sommige klubs, rugbykodes en die unie te wees dat klubs soos Paarl-klub (124 jaar oud) en Young Peoples (100 jaar plus) hulle nie agter die streekspan wil wend nie. Kleiner klubs kom nou agter hulle sal nooit sonder die hulp van groter klubs in die Superliga speel nie.
’n Koshuisliga sal die groter klubs verswak. Dertig plus spelers (senior en o.21 span) word ontwikkel en die res ploeter tuis rond. Indien daar slegs vier klubs in die Paarl was, sou die saak anders daarna uitgesien het.
Evalueer die bestaansreg van kleiner klubs met die oog op amalgamasie. Moet dit nie verder verswak nie. Waarom is Pniel Villagers en Franschhoek nie deel van die streekspan nie?
’n Klubondersteuner, Paarl
More
News
|