Aanranding skok
2007-05-31
DIT is met afgryse dat ek die berig oor die wrede aanranding van die Ernstzen-egpaar in die Paarl Post van 24 Mei gelees het.
Nog te meer skokkend was die feit dat die barbaarse optrede onder leiding van twee Stadsraadslede en ‘n man met die vername titel “President van BAWSI” geskied het.
Volgens die berig het die Ernstzens die korrekte prosedure gevolg om ‘n wettige uitsetting te verkry.
In plaas van die betrokke plaaswerker daarop te wys dat hy slegs woonregte op ‘n plaas kan hę as hy hom hou binne die reëls van die betrokke wetgewing, het die genoemde drie here besluit dat dit die ideale geleentheid is om politieke munt uit die situasie te kry.
Hulle onverantwoordelike optrede het gelei tot ‘n barbaarse aanval deur hordes op twee weerlose mense.
Dit is werklik betreurenswaardig dat mense met sulke belangrike titels tot sulke laagtes kan daal.
‘n Mens wonder onwillekeurig wanneer die tyd in ons bewoë land sal aanbreek wanneer alle ampsbekleërs waardig genoeg sal wees vir die posisies wat hulle beklee.
Aangesien mnr Ernstzen breinskade opgedoen het, wonder ek of daar nie gronde is vir in eis om skadevergoeding nie.
Die genoemde here behoort pa te staan vir hulle onverantwoordelike optrede!
PB Malherbe
More
News
|