Davids positief oor Boland-rugby
2007-06-07
Jacques Rossouw
DIE tydelike leemte by Boland Rugby Unie wat geskep is deur die vertrek van die voormalige afrigter, Hawies Fourie, is verlede week met die aanstelling van Deon Davids gevul.
Davids is reeds sedert 2002 by die Kavaliers betrokke as hulpafrigter en sal dié span tydens vanjaar se Curriebeker-reeks afrig.
“Ek is natuurlik baie opgewonde,” het die nuwe breier gesê.
“Dit is vir my ’n baie groot eer en terselfdertyd ook ’n uitdaging.
“Ons het saam beplan en saam gebou om te kom waar ons is. Daar is ’n paar nuwe dinge wat ons wil inbring, maar die resep sal aangepas word ten opsigte van die verskillende spanne in die kompetisie.”
Wat die moontlike sukses van Boland in Suid-Afrika se premier rugbyliga betref, het Davids gesê hulle is redelik positief.
“Ons werk van die uitgangspunt af om op elke wedstryd te verbeter.
“Ons wil vir so lank as moontlik in die Curriebeker bly. Die doel is om onder die eerste ses spanne te eindig sodat ons nie weer by ’n relegasie betrokke hoef te wees nie.”
Davids gaan bygestaan word deur die voormalige Springbok losskakel, Louis Koen.
Die hoofuitvoerende beampte van Boland-rugby, Piet Bergh, het gesê die unie is deur ’n moeilike proses.
“Ons sal ná afloop van die Curriebeker weer ’n voorraadopname hou. Intussen gaan ons ons beste lewer.
“Deon is al vir die afgelope vier en ’n half jaar by die Boland-opset betrokke en sy aanstelling sal die minste ontwrigting tot gevolg hê.
“Ons is definitief nog in ’n beplanningstadium. Daar sal heel moontlik ’n twee-dae kamp vir die span gereël word om planne te bespreek.
“Ons doelwit is om in die Curriebeker te bly en nie weer na ’n laer liga geskuif te word nie,” het Bergh verduidelik.
More
News
|