Treurspel
2007-06-07
TWEE skote in die nag wat gelei het tot die dood van ’n bekende egpaar, het die rustige dorp van Wellington verlede week geruk.
Hannes Kotzé (45) het vermoedelik die Woensdagaand eers sy vrou Wilna (46) in die kop geskiet en daarna die vuurwapen op hom- self gerig.
Hul 24-jarige seun, SJ, was tydens die voorval in sy slaapkamer op die onderste verdieping van die huis op die hoek van Blouvleiweg en Krielstraat, toe hy skote hoor klap het.
Toe hy ondersoek instel, het hy op die bloedige toneel afgekom in die netjiese sitkamer.
Die liggaam van sy ma het op die rusbank uitgestrek gelê, en dié van sy pa op die vloer. ’n Vuurwapen is naby Hannes se hand gevind.
Nou word talle vrae gevra oor wat die oorsaak van hierdie beweerde gesinsmoord was.
Volgens bure was die Kotzes ’n doodgewone, vriendelike egpaar. Hannes het gewerk vir ’n chemiese maatskappy wat veral sy produkte onder boere verkoop het.
Bure onthou vir Wilna as ’n beskeie huisvrou en oudkerkraadslid wat daarvoor lief was om in haar goedversorgde tuin te werk.
Die egpaar het nog ’n seun, Willie (21), wat op Stellenbosch studeer. Hy het onlangs sy 21ste verjaarsdag gevier tydens ’n spog-geleentheid wat sy ouers vir hom gereël het.
Die Kotzes is Dinsdag vanuit die NG Moederkerk in Wellington begrawe.
* ’n Well-known couple from Wellington died during a presumed family murder.
More
News
|