Spoor kanker betyds op
2007-06-14
DIE Kankervereniging van Suid-Afrika (CANSA) bied in samewerking met Pathcare spesiale tariewe gedurende Junie en Julie vir bloedtoetse om probleme in die prostaat vroegtydig op te spoor.
Hoe vroeër prostaatkanker opgespoor word, hoe beter die kanse op doeltreffende behandeling. As dit nie vroeg behandel word nie, kan kankerselle in die prostaat na ander dele van die liggaam versprei.
In die meeste gevalle toon prostaatkanker geen simptome in die vroeë stadiums nie, maar kan deur middel van hierdie bloedtoets opgespoor word.
Die toets meet die PSA-vlakke ('n proteïen wat deur prostaatselle vervaardig word) in die bloed en bepaal die waarskynlikheid van prostaatkanker.
Indien hierdie tellings verhoog is, sal daar verdere toetse gedoen word om te bepaal wat die oorsaak is.
Meer as 80% van alle prostaatkankers word in mans ouer as 65 gediagnoseer wanneer daar reeds simp-tome van gevorderde kanker aanwesig is.
Enige man kan vir hierdie toets gaan, maar CANSA beveel veral aan dat mans van 50 en ouer hierdie geleentheid moet aangryp en nie moet wag vir simptome nie.
Mans kan gedurende Junie en Julie bloed laat trek by verskillende punte. Geen afsprake is nodig nie.
In die Paarl is dit by Pathcare Lab, Maandag tot Vrydag 08:00-18:00 en Saterdag 08:00-13:00. Skakel 021-872- 5158.
In Wellington by drs Portwig, Otto en Pienaar, Maandag tot Vrydag 08:00-17:00. Skakel 021-873-1057.
In Franschhoek by drs Van der Merwe en Heywood, Maandag tot Vrydag 08:00-17:00. Skakel Riana Pretorius by 076-2794-755.
Vir meer inligting, skakel Mareé Lambrechts van CANSA by 082-922-3227.
More
News
|