Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Wie het beste neus?

Wie het beste neus?
 
2007-06-14


KELDERWERKERS met ’n fyn neus wat nie die geleentheid het om by enige van die formele instellings as fynproeër opgelei te word nie, het nou die geleentheid om hul slag, of eerder hul proe, te wys.

Die Pinotage Assosiasie is die amptelike borg van die Pinotage Assosiasie Wynproe-kompetisie vir Kelderwerkers wat deur die bekende wynproe-kenner, Charl Theron, gereël word.

Die doel van die kompetisie is om kelderwerkers te identifiseer wat die potensiaal het om wynproeërs te word. Volgens Beyers Truter, voorsitter van die Pinotage Assosiasie, het die Assosiasie ’n verantwoordelikheid teenoor die breë wynbedryf.

“Sowat 90% van die wynbedryf bestaan uit plaas- en kelderwerkers wat nie die geleentheid gehad het om hulle formeel te kwalifiseer nie. Deur kursusse soos hierdie sal hulle vaardighede leer wat ’n groot verskil aan hulle toekoms kan maak.”

Die wynproe-kuns is ’n baie belangrike faktor om te verseker dat die gehalte van wyn vir die verbruiker aanvaarbaar bly.

Ongelukkig is die opleiding van wynproeërs tans beperk tot ’n paar formele kwalifikasies soos die BSc Agric graad aan die Universiteit van Stellenbosch en die B Agric graad wat deur die Elsenburg Instituut vir Verdere Opleiding aangebied word, asook informele kursusse wat deur die Kaapse Wynakademie vir wynliefhebbers en -kenners aangebied word.

Kalibrasiekursusse vir proeërs wat dien op die proepanele van die Wyn- en Spiritusraad en die Veritas-wynkompetisie, word deur die Departement Wingerd- en Wynkunde van die Universiteit van Stellenbosch aangebied.

“Deur hierdie kompetisie kan ongekwalifiseerde werkers wat belowende proeërs is, geïdentifiseer, erken en beter aangewend word tot voordeel van die wynbedryf,” verduidelik Theron wat tans wynproe-kursusse vir heelparty van hierdie formele instellings aanbied.

Slegs kelderwerkers sonder enige formele opleiding as wynmaker en wat nie op enige vlak as wynmakers werk nie, mag deelneem.

Distrikswenners sal deur standaard wynevaluasiemetodes bepaal word en hulle sal deurdring na die finale ronde van die kompetisie waartydens strenger evaluasiemetodes gebruik sal word om die nasionale wenner aan te wys.

Groot kontantpryse sal toegeken word en die nasionale wenner mag moontlik vir die uitruilskema vir kelderwerkers na Frankryk of Kalifornië kwalifiseer. Alle distrikswenners sal ook kwalifiseer om die wynproe-kursusse wat deur die Universiteit van Stellenbosch aangebied word, by te woon.

Om in te skryf, kontak Gert Boerssen by boerssen@wellingtoncellars.co.za (Wellington), of Sandra Lotz by info@paarlwine.co.za (Paarl) of James Farquharson jamesf@dgb.co.za (Franschhoek).

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 31 Julie. Vir enige verdere inligting of inskrywings wat nie uit bogenoemde distrikte kom nie, kan Charl Theron gekontak word by 083-269-0577.



More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za