Nuwe bedeling het klubs vernietig
2007-06-14
HOEWEL die Paarl Post besluit het om nie verdere briewe oor die Paarl-streekspankwessie te plaas nie, wil ek graag my stuiwer in die armbeurs plaas, om balans te gee weens al die negatiewe briewe wat geplaas is.
Die pot word misgesit. Toe die destydse blanke rugbyraad begin belangstelling toon het in bruin rugby, en die sportboikot kop uitsteek, was hulle verbaas om te sien hoe gewild en sterk dit was.
Hulle het dit toegeskryf aan ons klub-rugbystelsel. By ons bekend as die Dorpsliga, noem Maties dit die koshuis-liga.
Met eenwording het WP en Boland hierdie stelsel eenkant toe gestoot en gesê elke klub op sy eie.
Die 12 destydse blanke klubs en die 8 bruin koshuisspanne moes die 20 klubs in die WP-klubkompetisie uitgemaak het. Die speelvelde sou gelyk wees en kwotas oorbodig.
Tans gaan baie bruin rugbyspelers in die Stormers-streek steeds verlore - en om te dink dat na 14 jaar moet bruin spelers steeds deur kwotas gehelp word om in die Stormers-span te kom!
Ek dink WP besef dit en probeer dit nou regstel. Hulle gaan begin met die Paarl-streek en daarna na ander streke uitbrei. WP het ons Paarl-spanne belowe dat geen span sy status in die unie sal afstaan nie en niemand gaan sy geld verloor nie.
In die ou bedeling met sy koshuis-liga, sou daar nou 15 klubs gewees het. Daar was destyds ‘n sterk swart koshuis-span met meer as 30 klubs in die WP. Na eenwording is daar net drie sukkelende klubs oor. Nou vra almal waar die swart spelers is. Die nuwe bedeling het hulle vernietig.
Ook word gepraat van swakker spanne wat moet ophou bestaan. Moet daardie spelers by bendes gaan aansluit? In Mitchells Plain met sy miljoen inwoners is daar net drie klubs!
Die regte ding vir WP om te doen is om die 15 top spanne in die unie en vyf koshuis-spanne in dieselfde kompetisie te laat speel. Die speelveld is dan gelyk.
Indien ons nie gaan terugkeer na hierdie stelsel nie, is ek bevrees dat ons nog 14 jaar met kwotas gaan sit.
In landsbelang moet WP nie lank sukkel nie, dit moet op die klubs afgedwing word.
Ikraam Moerat
More
News
|