Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Jeug staan op teen Tik

Jeug staan op teen Tik
 
2007-06-14

David Joshua

DIE jeug se opstand op 16 Junie 1976 wat ’n ommekeer in Suid-Afrika se politieke geskiedenis meegebring het, word vandeesweek met Jeugdag gevier.

Maar wat is die jeug van vandag se siening oor Jeugdag?
Volgens Anneesha Jannieke (in graad 10 by Noorder-Paarl Hoërskool) is Jeugdag daar om vryheid te vier.

“Jeugdiges moet mekaar ondersteun. Destyds het die jongmense saamgestaan om hulle ontevredenheid met die skoolstelsel uit te spreek.”

Shermoney Booysen, ’n skoolmaat van Aneesha, meen dat Jeugdag gewaardeer moet word deur jongmense.

“Baie van ons ouers was destyds mos die jonger geslag en hulle het baie opgeoffer om ons toekoms te verbeter. Ek gaan die byeenkomste op Jeugdag bywoon om meer te wete te kom.”

Volgens Roché Moore van Hoër Meisieskool Paarl is Jeugdag ’n bewys dat die land op sy jeug staatmaak om op die sukses wat dusver in Suid-Afrika bereik is, voort te bou.

“Jeugdag herinner my aan die uitdaging om te reik na die sterre in ’n land vol belofte.”

Dehana Rust in graad 11 by Labori Hoërskool sê alhoewel Jeugdag vir baie mense bloot net nog ’n dag is, is dit nodig dat almal weet waarvoor ons Jeugdag herdenk.

“Ons moet nie net leer uit die verlede nie, maar moet probeer om nie weer dieselfde foute te begaan nie.”

Lauren Samuels (15) van Noorder-Paarl voel dat Jeugdag baie spesiaal vir jongmense is.

“Om ’n eie vakansiedag te hê wys dat ons ook kan opstaan om ons mening oor sake te lug en ons sê te sê sodat die grootmense kan luister. Maar ons moet ook vir hulle luister en hulle gehoorsaam.”
Hyco Jacobs (19), oudleerling van Bergrivier Sekondêr, sê dat Jeugdag baie vir hom beteken.

“Die Jeug moet betrokke wees en opstaan teen dwelmmisbruik. Hulle moet meer belangstelling toon in sport en wegbly van Tik en misdaad.”

Moritan Fortuin (18) van Carterville, Wellington, het verlede jaar matriek klaargemaak by Weltevrede Sekondêr in Vanwyksvlei. Hy stem saam dat die jeug moet wegbly van dwelms.
“Tik vernietig ons jeug en die toekoms van die land. Die polisie moet baie strenger optree om veral die jeug teen hierdie onding te beskerm.
“Wat baat dit dat die jeug van gister so baie opgeoffer het vir vryheid en alles word nou deur Tik vernietig?”

Zoliswa Tshukuse, in graad 12 by Desmond Tutu, is bekommerd oor misdaad.

“Ek wil graag klaar leer om my dankbaarheid te toon teenoor ons ouers, wat hul jeug in die sewentigerjare opgeoffer het sodat ons nou die vryheid het om alles te kan doen wat ons graag wil.

“Ons is nog jonk en moet ons toekoms verseker met harde werk.”
Skoolmaat Viwe Mafumana sê die toekoms is nou in die jeug se hande.

“Ons moet die lewe ernstig opneem en nie deel hê aan misdaad en dwelmmisbruik nie.

“Wat gaan die jeug van vandag húlle kinders leer as hulle hulself aan hierdie dinge oorgee?”

Morné Cecils en Winston Morris, albei in graad 10 by New Orleans Sekondêr, praat sommer saam uit een mond.

“Dankie aan die wat dit moontlik gemaak het vir ons om ’n beter lewe te hê,” sê hulle glimlaggend.

Die jeug moet gebruik maak van die geleenthede wat aangebied word.
Stanley Meyer in graad 12 by Paulus Joubert is bekommerd dat die huidge generasie hul eie stryd het - teen die verval van morele waardes.

“Ons het twee keuses: ons moet ons kosbare vryheid gebruik om ’n beter lewe vir onsself en ander te bewerkstellig - of ons kan die vryheid waarvoor ons ouers geveg het, vertrap met dwelmmisbruik, misdaad en seksuele vergrype.

“Jeugdag moet ons inspirasie wees om die toekoms positief tegemoet te gaan en die negatiewe en afbrekende dinge agter te laat.
Reinhardt Biermann, in graad 12 en hoofseun by Hoër Jongenskool Paarl, voel sterk oor Jeugdag.

"Net so belangrik as die herdenking van hierdie dag is dat Jeugdag ons as jeug moet motiveer om met mekaar saam te werk aan 'n beter toekoms vir almal in ons land."

Freda Lourens, hoofdogter by Hoërskool Gimnasium, meen daar moet brûe gebou word methoop vir 'n positiewe toekoms vir Suid Afrika.

"Ëk hoop elke jongmens sien eenheid, nie andersheid nie, liefde en waardigheid en nie eiegeregtigheid nie, versigtigheiden beginselvastheid en nie bekrompenheid en traagheid nie. Ons is die toekoms van die land."



More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za