Rhadsport se professionele fietsryspan lyk belowend
2005-05-26
DIE COESSA Holdings fietsryspan, beroepsarm van die Rhadsport Fietsry-Akademie het Saterdag hul eerste sukses behaal in die WP Winter padliga.
Die Paarl klub se staatmaker was Thabiet Price wat die 3km heuwelklim-skof gewen het tydens ’n skofwedren wat op Hermanus gehou is.
In dié padwedren oor 75km het die span ook goed gevaar toe hulle met deurdagte spanwerk daarin geslaag het om Garth Thomas in ’n wegbreek-groep te kry wat die vroeë voorloper, Wesley Cole, agterna gesit het.
Cole van die CVT-span het op daardie stadium ’n onaanvegbare voorsprong van meer as twee minute gehad.
Harde trapwerk deur veral Thomas het tot gevolg gehad dat hy en Craig Butland ook van CVT die gaping op die einde tot slegs 20 sekondes laat krimp het.
In die naelrit na die wenstreep het Thomas se baanry-ervaring handig te pas gekom, en klop hy Butland vir die tweede plek.
In die junior afdeling het Martin Malan van Paarl Fietsryklub ’n tweede plek behaal met Ivano Siebrits van Rhadsport wat verras het deur in die padwedren oor ’n heuwelagtige roete, in die vierde plek klaar te maak.
Nog ’n Rhadsport-ryer, Clint Hendricks, het tweede gekom in die o.14 afdeling.
* Die Rhadsport Fietsry Akademie bied Saterdag ’n talentidentifiseringspadbyeenkoms aan. Die wedrenne sal om 10:00 by die Boland Krieketstadion begin.
Enige skolier met ’n padfiets en valhelm is welkom om deel te neem. Die doel van die wedren is om nuwe ryers vir die klubs in die provinsie te werf, met die oog op die komende Eric van Enter wedrenne in Julie.
Wedrenne vir geregistreerde skoliere sal ook aangebied word.
More
News
|