Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Hilton wil Bul van 'n Bok word

Hilton wil Bul van 'n Bok word
 
2005-05-26

Leon Steenkamp

HY het op ’n jong ouderdom besluit om nie toe te gee aan die listige roepstem van die strate nie en vandag kyk Hilton Lobberts vorentoe na ’n belowende rugbyloopbaan.

Lobberts was vanjaar deel van die seëvierende o.19 Springbok-span nadat hulle Nieu-Seeland 20-15 in ’n naelbyt-eindstryd van die o.19 IRB Wêreldkampioenskappe in Durban geklop het.

Dit is die tweede keer dat Hilton, wat op 11 Junie sy 19de verjaarsdag vier, die o.19 Springbok-trui oor sy kop getrek het.

“Wat ek geleer het, is dit gaan nie altyd oor wen nie. As jy jou rugby geniet dan sal alles vir jou goed afloop,” vertel Hilton oor sy span se sukses vanjaar.

“Om die toernooi te wen, was ’n groot eer. Daardie wedstryd teen die All Blacks was een van die hardste wat ek nog gespeel het.”

Hy soek na woorde, “Jô - ek weet nie hoe om dit te beskryf nie.”
Hilton beaam dat sy ervaring van die vorige jaar ’n groot rol gespeel het.

“Die ervaring het baie gehelp. Jy ken nou die support, die veld en die lugdruk.”

Op individuele vlak was die toernooi ’n groot sukses vir Lobberts deurdat hy as die belowendste speler van dié toernooi aangewys is en tans ook die eerste gekeurde o.19 oopkantflank in die wêreld is.

Dit is dus geen wonder dat hy ook in die SA o.21 Springbok-span ingesluit is wat volgende maand in Argentinië aan die o.21
Wêreldbeker-toernooi gaan deelneem nie.

Hilton is duidelik oor sy planne vir die toekoms: “Ek wil dié sukses vorentoe vat en een van die wêreld se beste Springbok A-span spelers word.”

En danksy ’n senior kontrak van twee jaar by die Blou Bulle hoef dié droom nie te ver in die toekoms te lê nie.

“Ek speel volgende jaar in die Vodacom, maar ek gaan probeer om in die Bulls se oefengroep te wees,” sê hy beslis.

“Maar ek wil vir die Blou Bulle speel. Dit was nog altyd my droom gewees. Van jongs af was dit my grootste begeerte om die blou jersey aan te trek.”

Dit is duidelik dat Hilton opgewonde is oor sy nuwe tuiste by die Blou Bulle.

Vra jy hom of hy dalk al in vanjaar se Curriebeker-reeks in aksie sal wees, gee hy net ’n senuweeagtige laggie.

“Nee ek glo nie, maar as dit so moet kom, sal ek dit met altwee hande aangryp.”

Besluite

Hilton se toekoms was egter nie altyd so goed uiteengesit nie.
Sy ma bly in Bosbokwoonstelle in Chicago, ’n buurt berug vir sy armoede, bendes en geweld.

As kind was die gevare van dwelms, drankmisbruik en misdaad maar al te werklik en aanvaarbaar vir Hilton.

“Ek het maar swaar grootgeraak,” sê Hilton wat uit ’n gebroke huis kom en een van tien kinders is.

“Maar daar was mense soos oom Cedric (Oom Uile) en Jacques wat ’n winkel hier in Chicago het. Hulle het van kleins af vir my gesê, ek gaan ’n Springbok raak en geglo in my.

“Ek moet ook vir tant Philly en oom Chris Afrika van Charleston Hill by wie ek die afgelope twee jaar gebly het, bedank vir alles wat hulle vir my gedoen het.”

Dit is dié mense wat hom gehelp het om regte besluite te maak.
“Ek het ook maar gerook en gedrink en betrokke geraak by verkeerde dinge.

“Toe ek 12 was, het ek gesien wat kom my vriende oor wat hulle met verkeerde dinge ophou en toe besluit ek om daarmee op te hou.

“Die mense wat in my geglo het en my talent raakgesien het, het vir my gesê ek moet besluit: Wil jy jou lewe lank rondswerf en mense lastig val of wil jy jou eie kar ry en jou eie huis hê.

“Toe sê ek, maar ek wil eendag my eie kar ry en toe sê hulle maar mens moet sekere dinge doen as jy eendag bo wil uitreik.”

Hankey Green en Lyndon Manas, afrigters by New Orleans Sekondêr, was ook twee mense wat ’n groot rol in sy opvoeding gespeel het.

Dit was juis Green wat die jonge Hilton op laerskool al geoormerk het vir groot dinge.

Hy het Hilton onder sy vlerk geneem en dié outjie se grootte het beteken dat hy reeds in graad vyf vir die hoërskool begin rugby speel het.

“In st 3 het ek o.14 gespeel, in st 4 o.16 en in st 5 het ek vir New Orleans Sekondêr se eerste span uitgedraf.

“Toe ek by die hoërskool begin speel, het hulle gesê ek is te groot, toe skuif hulle my van buitesenter na nommer sewe flank.”

Op provinsiale vlak het hy ook sy merk gemaak. In st 4 haal hy die Boland o.13 span, terwyl hy vir die volgende twee jaar in die Nike All Star o.15 span ingesluit is. Hy het selfs in een jaar vir die Boland o.15 en o.16 spanne gespeel.

In 2003 en 2004 was hy ’n staatmaker in die Boland Cravenweek-span.

En deurgaans was dit sy afrigters wat hom aangemoedig en ondersteun het.

“Sulke mense kan jy nie teleurstel nie, want jy skuld hulle te veel. Hulle het nooit geld gesoek by jou nie.

“Mnr Green het my gevat soos ’n eie kind. As ek soggens vroeg by die lughawe moes wees, het hy 05:00 opgestaan om my te vat en dan weer kom haal, sonder om ooit te moan. Ek wil hom bedank daarvoor.”

Sy sukses het hom reeds ’n rolmodel vir die jeug van Chicago gemaak.

“Van die laerskool-laaities sê hulle wil soos Thamang wees,” sê hy met ’n skamerige laggie.

Thamang?

“Ja dis ’n bynaam wat ek van kleins af het, baie mense ken my net as Thamang,” vertel hy.

Hard gebak

Die sterke Thamang, wat die skaal op 100kg laat steier en 1,95m in sy sokkies staan, is beslis ’n gedugte teenstander op die veld.

“Ek is vinnig en sterk en kan die bal goed dra.”

Die feit dat hy op laerskool in die agterlyn gespeel het, maak hom selfs nog meer gevaarlik in die los fasette.

Hilton kry sy rugbytalent van sy pa, Kallie Jacobs, wat op sy dae flank vir Young Peoples Rugbyklub en die Boland gespeel het en ook vir die WP Liga en SA Rugby Federasie spanne uitgedraf het.

Hilton se rolmodelle op die veld is die Nieu-Seelanders, Ritchie McCaw en Jerry Collins. Hier op die tuisfront respekteer hy die spel van Joe van Niekerk en Schalk Burger.

Dit is juis sy voorliefde vir kontak op die veld wat hom al met ’n paar beserings gelaat het.

Verlede jaar het hy sy linkerdyspier tydens die o.19 toernooi geskeur en kon gevolglik nie vir die o.21 Springbok-span kwalifiseer nie.

Tydens vanjaar se eindstryd teen die Kiwi’s het hy die ligamente in sy regterknie geskeur.

Gereelde sessie by ’n fisioterapeut van die Stellenbosse Instituut van Sport het egter verseker dat hy volgende maand in Argentinië sal kan speel.

“Baie mense praat baie dinge met jou, maar op die einde van die dag moet jy jou eie kop oopmaak en self dink. Jy kan niemand glo nie, dit hang alles af van wat jy self met jou lewe maak.”



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za