Wellington steeds baas in Boland
2005-05-26
SLEGS ’n enkele wedstryd staan tussen Wellington Rugbyklub en nog ’n onoorwonne eerste ronde in die Boland se Superliga A1.
Die huidige ligavoorlopers het Saterdag op Wellington al hul dae gehad om Ceres 29-20 (12-10) te klop.
Ceres wat vanjaar vier wedstryde verloor het, het die tuisspan stewig opdraande gegee.
Met twee minute speeltyd oor het Wellington nog 29-13 voorgeloop, maar ’n verbete poging deur Ceres het hulle ’n laaste troosprys besorg.
Wellington het ná die eerste 20 minute sy loskopstut, Janroux van Niekerk, weens ’n besering verloor en het daarna maar gesukkel in die skrums.
Die tuisspan se gevaarlike agterlyn het egter met die beskikbare balbesit die punte gekry.
Du Toit Swart, Anroux Swart, Bertie Langehoven en Theuns Stofberg het Wellington se drieë gedruk. Stofberg was ook suksesvol met drie doelskoppe en ’n strafdoel.
Ceres se drieë is deur Quinton Mac Duling en Cecil Kemp gedruk. Louis Peens het twee strafskoppe en twee doelskoppe oorgesit.
Wellington lê tans gemaklik voor op die punteleer met 39 punte ná agt wedstryde, Delicious lê tweede met 25 punte en Darling derde ook met 25 punte. Ceres en Roses United beklee onderskeidelik die vierde en vyfde posisies.
Die nasionale klubkampioenskappe vind van 5 tot 10 September in Port Elizabeth plaas.
Die wenner van die Superliga A1 sal die Boland by die toernooi verteenwoordig en dit lyk of dié eer weer vanjaar op die skouers van die Wellington Rugbyklub gaan rus.
* Intussen het die Boland Rugby Unie gewys dat hy vanjaar geen ongedissiplineerde spel of gedrag sal duld nie.
Saldanha Rugbyklub is tot 31 Mei geskors wanneer daar ’n dissiplinêre verhoor sal plaasvind.
Die verhoor volg nadat Saldanha se toeskouers in ’n wegwedstryd teen Rawsonville op die veld gehardloop en die skeidsregter gedreig het.
More
News
|