Insleper uitgevang
2007-06-21
’n INSLEEPWA-BESTUURDER van die omstrede insleepdiens Boland Towing van Suider-Paarl het die naweek agter tralies beland, nadat hy in hegtenis geneem is vir die besit van ’n gesteelde polisieradio.
Die polisie het verlede Donderdagaand inligting ontvang in verband met beweerde onwettige besit van ’n radio en die bewegings van Dewald Esterhuizen van Boland Towing is dié aand gemonitor.
Esterhuizen het gereageer op ’n ongeluk in Hoofstraat, Suider-Paarl, en kort daarna is hy inderhaas na Groot Drakenstein.
Hier is hy deur polisiebeamptes van die pad getrek en sy voertuig deursoek. Die radio is gevind waar dit voor in sy broek versteek was.
Hierdie radio is vermoedelik verlede jaar gesteel uit ’n polisievoertuig by ’n ongelukstoneel op die N1 naby Klapmuts. Esterhuizen is in hegtenis geneem en daar is op die insleepvoertuig beslag gelê. Ná ’n naweek in die polisieselle het hy Maandag in die Paarl landdroshof verskyn. Die saak is uitgestel tot 26 Julie.
Boland Towing was al verskeie kere in die nuus met aantygings van onder andere aanranding van kompeterende insleepdienste, asook oor onregmatige besigheidspraktyke soos hoë tariewe met die insleep en berg van voertuie.
’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat hierdie voorval ’n bewys is van die desperaatheid van insleepdiens-bestuurders om eerste op ’n ongelukstoneel te wees.
“Na bewering ontvang hierdie bestuurders R500 vir elke voertuig wat hulle suksesvol gaan haal, maar ons gaan nie toelaat dat hulle die wet oortree nie.”
* A driver of the controversial towing company, Boland Towing, was arrested and his vehicle impounded for possession of a police radio.
More
News
|