Drie koelbloedig vermoor
2007-06-21
DRIE jong Paarlse mans is Sondagnag koelbloedig doodgeskiet na ’n beweerde stryery oor ’n elektriese kabel.
Onmin het Saterdagmiddag ontstaan toe Neugene Kulsen (25) en Jonathan Scheepers begin stry het oor ’n elektriese koord wat vanaf ’n woonstel in Bosbokstraat na ’n informele woning daar naby gelei het. Tydens die stryery is Kulsen met ’n mes gewond en volgens getuies is hy gewaarsku dat ‘dit nie die einde van die storie is nie.’
Sondag het dit gelyk asof alles tot normaal teruggekeer het, maar kort na middernag het verskeie skote die stilte in Bosbokstraat verbreek.
Met die aankoms van die polisie is die lyke van Kulsen, Willem Vermeulen (19) en Donovan Moos (18) in Moos se opslaanhuis gevind. Hulle het vermoedelik kaart gespeel toe die skielike aanval plaasgevind het.
Die polisie het die spoor gevolg van die vermeende aanvallers, en Scheepers en Clinton Petersen is vinnig in hegtenis geneem. Vroeg Maandagoggend is ’n derdeman, Jeffrey Steyn, vasgetrek.
* Three young man were shot dead in a shack in Paarl East.
More
News
|