Tragiese ongeluk eis jong vrou
2007-06-21
VADERSDAG het tragies begin vir ’n pa van die Paarl, toe hy die lyk van sy dogter uit die wrak van ’n motor moes haal.
Die drie-en-twintigjarige Alucia Malan en haar suster Suzette (24) was omstreeks 02:45 Sondagoggend in Hoofstraat onderweg na hul ouerhuis in Denneburg.
Volgens Alucia se pa, Esri Malan, het sy dogter in haar rooi BMW by die verkeerslig by die kruising van Hoof- en Lady Greystraat stilgehou.
Sy het hierna weggetrek in ’n suidelike rigting, maar het vermoedelik beheer oor die voertuig verloor net verby die ou poskantoor.
Die motor het aan sy linkerkant ’n pilaar van ’n gebou getref aan die oorkant van die pad.
Alucia, wat die voertuig bestuur het, het steeds gelewe na die ongeluk, maar toe die ambulans 20 minute later op die toneel aankom, was sy reeds dood.
Suzette, wat aan die impakkant van die voertuig gesit het, het slegs skaafwonde op haar gesig en liggaam opgedoen.
’n Hartverskeurende toneel het hierna afgespeel, toe Esri (’n pastoor by die Bikers Church) op die toneel aangekom het en daarop aangedring het om self die liggaam van sy dogter uit die wrak te haal.
“Dit was vir my baie moeilik, maar ek dink dat dit in die langtermyn vir my vrede sal besorg,” het Esri gesê.
Hierdie tragiese ongeluk het twee weke en skaars 100 meter plaasgevind vanaf die ongelukstoneel waar Jean-Pierre du Toit (19) onlangs dood is.
Esri het gesê dat na Jean-Pierre se dood het hulle by die Bikers' Church vir die Du Toit familie gebid ná hul verlies.
“Ons moet nou as gemeenskap sterk bid dat dié tendens van sterftes in die Hoofstraat van die Paarl moet stop.”
Alucia, ’n oudleerling van La Rochelle, het vir haarself as makelaar gewerk.
“My dogter was ’n lewenslustige mens wat ’n sukses gemaak het van alles wat sy aangepak het.
“Ons is almal baie lief vir motorfietse en Alucia was ’n kampioen 400cc snelrenjaer wat verskeie trofeë in dié sport losgeslaan het.”
Alucia word oorleef deur haar pa, ma Susan en susters Suzette en Liezel (27). Sy word môre vanuit die Bikers' Church by die Paarl Aanbiddingsentrum deur Esri ter ruste gelê.
* Another young Paarlite has died in a tragic accident in Main Street.
More
News
|