Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Kind sterf na brand

Kind sterf na brand
 
2007-06-21


DIE gemeenskap van Bougainvillea-woonstelle in Paarl-Oos is in rou gedompel ná die dood van ’n lewenslustige vierjarige dogtertjie in ’n brand.

Wat begin het as ’n doodgewone Saterdagaand, het in ’n vlammehel ontaard wat die lewe van Johandré Koordom geëis het, asook 45 mense se lewens in puin gelę het.

Johandré se ouma Elizabeth Claassen, wat vir haar grootgemaak het, vertel dat alles so vinnig gebeur het.

“Ons het omstreeks 19:30 aan tafel gesit toe die kinders van buite begin skree het dat my suster, Polla, se opslaanhuis net buite ons woonstel aan die brand is.

“Toe ons kyk, het die vlamme reeds aan ons vensters begin lek en die ruite het van die hitte gebars. Die gordyne het dadelik aan die brand geslaan.

“Ons eerste gedagte was om vir Polla na veiligheid te bring en daarna het ons probeer keer dat die vlamme verder ons woning verwoes.”

Drie opslaanhuise by Bougainvillea-woonstelle se C-blok het afgebrand, en drie woonstelle bo-op mekaar het erg skade gely.

Elizabeth beduie dat in die chaos het sy vir klein Johandré uit die woonstel na buite gejaag met die ander kinders.

“Die hele plek was pikdonker van die rook en ons het probeer red wat ons kon.

“Eers toe ek uiteindelik buite kom, het ek besef dat my kleinkind nie daar is nie.

“Ek wou weer na binne gaan, maar een van die ambulansmanne het my gekeer.

“Ek het vir hom gesę hy moet soek vir Johandré en kort daarna het hy uit die woonstel gekom met haar klein lyfie in sy arms. Sy was bewusteloos, maar het steeds aan haar geliefde teddie-beer geklou.”

Tussen die drama deur, het Johandré vermoedelik teruggegaan na die woonstel en veiligheid van die rumoer gaan soek op haar bed.
Hier het die rook haar oorval.

Johandré is inderhaas na die Paarl Hospitaal geneem, maar sy is dieselfde nag dood aan longskade.

Die slagoffers van die brand het verkies om in hul beskadigde woonstelle te bly om hul skamele besittings wat uit die brand gered is, te beskerm.

Die Munisipaliteit het vroeg Maandag begin herstelwerk doen aan die beskadigde eiendom sodat inwoners hul lewe kon begin hervat.

* A four-year-old child died when a fire engulfed flats in Lantana, Paarl East.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za