Albions hardloop Tiere dronk
2005-05-26
DIE ietwat beter fiksheid en penetrasievermoë van sy agterspelers het Saterdag vir Albions ’n 29-15 sege oor Young Peoples besorg.
Ondanks heelwat goeie lopies was dit die twee skoppers wat in die eerste helfte die enigste sê gehad het.
Dominic Daniels se visier was egter beter ingestel as dié van Peoples se Delwayne Cornelissen. Die spanne gaan drink dus water met die Albions wat 12-3 voorloop.
Vroeg in die tweede helfte slaan Peoples terug toe Thysie Pietersen oorduik vir ’n drie.
Albions se bedrywige regtervleuel, Alvin Hugo, wat regdeur die wedstryd gevaarlik gelyk het, word kort hierna ook met ’n drie beloon. Die doelskop en ’n verdere strafskop strek Albions se voorsprong na 22-8.
’n Drie deur Peoples se Christopher Adams en doelskop deur Ben Martin hou hulle egter binne bereik van Albions.
Met ’n paar minute oor tree die spelers aan vir ’n lynstaan vyf treë van die Tiere se doellyn. Peoples gooi in, maar Albions se Roderick Allies neem die bal af, gee ’n paar treë en duik oor die doellyn vir die mooiste drie van die dag.
Die doelskop van Daniels van reg langs die kantlyn is in die kol en Albions stap tevrede van die veld af. Daniels is dan ook die speler van die wedstryd.
Peoples II en III het 24-11 en 23-7 gewen.
More
News
|