Boland word kil ontvang
2007-06-28
Jacques Rossouw
DIE Boland Kavaliers het verlede Vrydag ’n kille verwelkoming in vanjaar se Curriebeker-toernooi ontvang nadat die verdedigende kampioene, Vrystaat, hulle met 91-3 in Bloemfontein verslaan het.
“Die verlies aan vyf staatmaker-spelers het ’n groter impak gehad as wat ons verwag het,” het die kaptein van die Kavaliers, Conrad Burke, verduidelik.
“Veral in ’n verkleinde Boland-groep laat dit nogal ’n groot leemte, maar dit kan verseker met tyd reggestel word.”
Burke het verder gesê Vrydag se nederlaag was ’n tekort aan verdediging deur Boland eerder as die aanvalspatrone van Vrystaat.
“Ons het veranderinge aan ons spelpatroon aangebring wat ook tyd sal neem om te vestig.
“Ons besef nou, alhoewel ons vir die Curriebeker kompeteer, ons eintlik met Super 14 spanne meeding.
“Kanse vir punte word nie gegee nie, maar met klipharde inklim-spel verdien. Foute word eksponensieel gestraf.”
Boland speel Saterdag hul eerste wedstryd tuis teen Westelike Provinsie by Boland-stadion op Wellington en hulle besef dat dit ’n harde stryd gaan wees.
“WP verloor ook ’n paar groot name vir die wedstryd Saterdag en ons sal net hierdie versteuring in hul ritme moet uitbuit.
“Hoe dit ook al sy, ons het nog baie werk om in te sit voor Saterdag en moet nou konsentreer om ons eie spelpeil te lig voordat ons na ander spanne kan kyk,” het Burke gesê.
Die Boland-span wat teen die WP gaan uitdraf, is 15. Renfred Dazel, 14. John Daniëls, 13. Piet van Zyl, 12. Hennie Daniller, 11. Jongikhaya Nokwe, 10. Isma-eel Dollie, 9. JP Joubert, 8. Francois Prinsloo, 7. Henley du Plessis, 6. Zolani Mofu, 5. Coenie Basson, 4. Randall Julies, 3. Andries Human, 2. Conrad Burke (kaptein) en 1. Janro van Niekerk. Plaasvervangers: 16. Pieter Wium, 17. Ruaan du Preez, 18. Dries van Schalkwyk, 19. Chris Potgieter, 20. Dewald Duvenhage, 21. Lionell Cornelius en 22. Justin Peach.
* Die wedstryd tussen Boland en WP skop Saterdag om 15:00 af en kaartjies is beskikbaar by Boland Rugbykantore, WP Rugbykantore, Pêrel Sporttakke asook Worcester Gas en Sport.
More
News
|