Harde bene gekou by Ultra
2007-06-28
Jacques Rossouw
“DIE Ultra ‘proeflopie’ was geslaagd,” het Danie Hauptfleisch, organiseerder van die eerste Bainskloof Ultra-marathon op Wellington, vandeesweek gesê.
“Ons is heel ingenome met die opkoms aangesien die marathon eers drie maande gelede bekend gestel is.”
Altesaam 75 atlete het die dubbele marathon oor Bainskloof voltooi terwyl 466 atlete die halfmarathon klaargemaak het.
Zondwa Hombexeza (New Balance Khayelitsha) was die eerste atleet oor die wenstreep en het die 84,4km roete in 06:34.44 voltooi.
Moses Ngqola (Harmony Gold, 06:50.19)en Andries Ntsizahaco (Harmony Gold, 06:55.48) het vyftien minute later klaargemaak vir die tweede en derde plekke onderskeidelik.
In die vroue-afdeling het Wellington Atletiekklub gedomineer met Elzet Louw (09:04.02) en Ronel Terblanche (09:12.50) wat die eerste en tweede plekke ingeneem het. Judy Tancrel (Vishoek AK, 09:25.00) was derde.
Zolani Bhitane (Harmony Gold, 01:07.59), George Ntshiliza (01:08.11) en Avukile Ntongana (Mr Price WP, 01:08.12) het die eerste drie plekke in die halfmarathon behaal terwyl Thozana April (Mr Price Celtic Harriers, 01:22.29), Ntombesintu Ntshiliza (01:23.43) en Helene Perold (Ceres AK, 01:28.45) die eerste drie vroue was.
Owen Smith (5de), Jacobus Visagie (8ste), Etienne van der Merwe (11de), Byron February (14de), Freddie Francis (15de), John Small (16de) en Colin Williams (18de) van Wellington Atletiekklub het onder die eerste twintig atlete by die Ultra-marathon klaargemaak.
Norman Smit (12de) was die enigste atleet van Wellington Atletiekklub wat onder die eerste twintig posisies in die halfmarathon geëindig het.
More
News
|