Onmin oor raadslid
2007-06-28
OMSTREDENHEID heers tans in die Drakenstein Munisipale Raad oor die gepoogde skorsing van raadslid Philmon Maxam deur sy party, die Western Cape Community (WCC).
Raadslid Philmon Maxam is in April “geskors” as lid van die WCC, na aanleiding van ’n brief wat die interim-streeksvoorsitter van dié party, Elenore Basson van Bonnievale, gerig het aan die Munisipale Bestuurder, dr Sidima Kabanyane.
Maxam dien egter steeds as raadslid, maar volgens raadslid Dawn Jacobs, ook van die WCC, verteenwoordig hy nie meer die WCC op die Raad nie.
“Ons het reeds verlede week ’n verdere skrywe gerig aan die munisipale bestuurder, dr Sidima Kabanyane, rakende die aangeleentheid, maar tot dusver het ons nog geen terugvoering gekry nie,” aldus Jacobs.
Sy voer ook aan dat korrespondensie gerig is aan Maxam vir ’n dissiplinêre verhoor.
“Hy het net eenvoudig nie opgedaag vir die vergaderings nie. Die verhoor het voortgegaan in sy afwesigheid en hy is skuldig bevind aan wangedrag deur besprekings te hê met ’n politieke party sonder toestemming of mandaat van die WCC, deur ’n ander politieke party (ANC) te bevorder deur ’n T-hemp te dra met hul naam op, deur agtereenvolgende vergaderings nie by te woon nie, en nie 10% van sy salaris aan die WCC te skenk nie.
“Die OVK en dr Kabanyane is in kennis gestel van Maxam se skorsing, maar dr Kabanyane aanvaar nie Maxam se skorsing nie, omdat ’n splintergroep binne die WCC hom steeds steun.
“Hierdie groep, gesteun deur die ANC, wil nie Maxam se skorsing aanvaar nie, want dit is ’n uitgemaakte saak dat Maxam met die oorloop in September, na die ANC sal oorloop.
“Dit is nie reg dat dr Kabanyane die ANC ondersteun in hierdie aangeleentheid nie,” sê Jacobs.
Jacobs het ook bevestig dat die WCC hulle tot die Hoër Hof sal wend om uitsluitsel te kry oor die aangeleentheid.
Maxam is in 1990 tronkstraf van 25 jaar opgelê vir die moord op ’n huishulp en tuinier tydens ’n huisbraak by Vlakkeland in die tagtigerjare.
Hy het onsuksesvol by die Waarheids- en Versoeningskommissie aansoek gedoen vir amnestie op grond dat sy misdaad “politiesgedrewe” was.
Hy is tronkstraf uitgedien tot hy op 11 Maart 2002 op parool vrygelaat is. Op 10 Oktober 2005 het sy parool verstryk.
Die Grondwet bepaal dat enige mens wat tronkstraf uitdien vir langer as ’n jaar sonder die opsie van ’n boete, vir ’n tydperk van vyf jaar nie mag dien in ’n openbare amp nie.
Volgens Courtney Sampson, provinsiale hoof van die OVK, het niemand verlede jaar teen Maxam se verkiesing beswaar gemaak nie en was die OVK onbewus van sy misdaadrekord.
* Although he has been “suspended” by his party, Philmon Maxam of the WCC continues to sit in the Drakenstein Municipal Council.
More
News
|