Raadslid laat hom nie stuit
2007-07-05
DIE nuutverkose ID-raadslid van Amstelhof, Conrad Poole, het op sy eerste amptelike dag as raadslid byna in die hospitaal beland toe hy met ’n skroewedraaier dwarsdeur sy wang gesteek is.
Poole (plaaslik bekend as “uncle Bob”) vertel dat hy en lede van die gemeenskap Maandagoggend buite sy huis in Rooiborsiestraat, Amstelhof, gesels het toe ’n jong man skielik verbygehardloop het.
“Kort op sy hakke was ’n vriend van my wat geroep het dat ek moet help om die man aan te keer, want hy het ’n meisie in die gesig geslaan en haar selfoon gesteel.
“Ek het alles gelos en die man agternagesit. Weens my rugby-ervaring was ek in Kanariestraat reeds kort op sy hakke.
“Toe ek hom wil platduik, het hy na my gekap met ’n skroewedraaier. Ek het gesteier, maar dit het my nie gekeer om hom verder agterna te sit nie.”
Die voortvlugtige is deur ’n huis en agter uit, maar teen dié tyd het die hele gemeenskap betrokke geraak by die jaagtog.
“Toe ek binne die huis kom, vra iemand vir my hoekom my gesig so bebloed is. Dit is eers toe dat ek agterkom dat ek in die gesig gesteek is met die skroewedraaier.
“Dit het steeds nie vir my gestuit nie en ek is weer voort. Die vermeende dief is kort hierna deur die gemeenskap vasgekeer en toe ek daar aankom, moes ek net keer dat hulle nie reg in eie hande neem en die man takel nie.”
Die skroewedraaier het dwarsdeur Poole se wang gesteek tot teen sy tande.
Poole sê dat misdaadbekamping sy nommer een prioriteit in Amstelhof is om sodoende ’n veilige omgewing vir die hele gemeenskap te skep.
“Misdaad moet wortel en tak uitgeroei word.”
Jenovan Williams (26) van Jan Groentjiestraat Amstelhof, is in hegtenis geneem in verband met die voorval.
* The newly elected town council member for Amstelhof, Conrad Poole, was stabbed in the cheek on his first official day as councillor while chasing a thief.
More
News
|