Oud-onderwysers kan help
2007-07-05
AFGETREDE wiskunde- en wetenskaponderwysers, of wetenskaplikes wat in die industrie werksaam is, het die kans om hul kennis terug te ploeg in die jeug deur as beoordelaars by vanjaar se streekskompetisie van die Eskom Expo vir Jong Wetenskaplikes op Stellenbosch op te tree.
Hierdie uitnodiging word gerig deur die Fakulteit Opvoedkunde by die Universiteit Stellenbosch (US) se Instituut vir Wiskunde en Wetenskaponderwys (IWWOUS), wat vanjaar dié gewilde expo op 23 en 24 Augustus aanbied. Dit vind plaas in die Langenhoven Studentesentrum (Neelsie) op die US kampus.
Vir die streekkompetisie van Expo kan leerders inskryf in afdelings wat wissel van fisiese of chemiese wetenskappe, elektronika, dier- of plantwetenskappe, klimaatsveranderingstudies, mediese en gesondheidswetenskappe en landbou, tot voeding, wiskunde, rekenaarwetenskappe en sosiale wetenskappe.
“Omdat ons vanjaar tot 400 inskrywings verwag, wil ons seker maak dat ons soveel moontlik beoordelaars beskikbaar het,” verduidelik Expo streeksvoorsitter Erika Hoffman van IWWOUS.
Daar is veral ’n behoefte aan sielkundiges, maatskaplike werkers en mediese personeel wat kan help met die beoordeling van die kategorieë oor sosiale en mediese wetenskappe.
Vir meer inligting oor hoe om as beoordelaar betrokke te raak, kontak Mariétta van den Worm by 021-808-3760 of e-pos mvdworm@sun.ac.za. Besoek ook www.imstus.sun.ac.za/EXPO. - Engela Duvenage
More
News
|