Bakgat Boland blink
2007-07-05
Jacques Rossouw
DIE Boland Kavaliers het die afgelope naweek vriend en vyand verras met ’n onverwagte, maar welkome 15-10 oorwinning oor hul bure in die Curriebeker-reeks, Westelike Provinsie, by Boland-stadion in Wellington.
Die tuisspan het op ’n nat, swaar veld met volgehoue verdediging en goeie hantering die omstandighede beter benut om uiteindelik hul eerste ligapunte in die kompetisie aan te teken.
Die kaptein van die Kavaliers, Conrad Burke, het gesê die oorwinning beteken baie vir die span.
Dit was definitief wat ons nodig gehad het om die Curriebeker-reeks vir ons om te draai. Dit is belangrik om nie uit die oog te verloor dat die weer ’n groot gelykmakende faktor was nie.
“Ek wil niks wegvat van ons skitterende vertoning nie, maar ons moet nou daarvan vergeet en besef ons spelpatroon kort nog skaafwerk.”
Die spanbestuurder van Boland, Denver Pienaar, het saamgestem dat die oorwinning goed was, maar het bygevoeg dat die wagwoord nou is om nederig te bly.
Boland kom Saterdag teen die Valke in Brakpan te staan en dié kragmeting kan nie as maklik gesien word nie.
Die Valke het ná twee wedstryde nog geen ligapunte aangeteken nie, maar dit is juis wat hulle so gevaarlik maak, het Pienaar verduidelik.
“Hulle gaan met alles kom wat hulle het.”
Veral wat die kleiner unies betref, waar oorwinnings soos dié van die afgelope naweek (Boland klop WP, Griekwas klop Blou Bulle) nie ’n alledaagse verskynsel is nie, gaan bonuspunte uiteindelik die deurslaggewende rol speel.
“Absoluut. Veral met die Springbokke wat vanjaar nie deel is van die Curriebeker nie, gaan bonuspunte ’n baie groot rol speel om jou span deur te sien na die semi-finale,” het Burke gesê.
“Die doelwit is om in elke wedstryd ’n bonuspunt te kry, hetsy vir vier of meer drieë óf ’n verloor met minder as sewe punte.
“Ons is bewus daarvan dat ons binne die Curriebeker speel, maar ons wil vir die Curriebeker speel,” het Pienaar bygevoeg.
Die hoofuitvoerende beampte van die Boland, Piet Bergh, het beaam dit was ’n lekker sege oor die WP.
“Dit was goed vir die manne, veral ná die groot verloor teen die Cheetahs.
“Boland het uitstekend verdedig en dit ook reggekry om balbesit keer op keer om te draai.”
More
News
|