Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Ouma nie gestuit deur rowers

Ouma nie gestuit deur rowers
 
2007-07-12


“Ek dink die rede hoekom een van die rowers vir my so goed behandel het tydens die roof is seker omdat ek dikwels vir hom en sy ma geld gegee het om te oorleef.”

Dit vertel ’n bejaarde vrou nadat sy in haar huis in De Zoete Inval, Suider-Paarl aangeval is.

Mercia Bouwer (80) het gesę dat sy verlede Donderdagoggend deur twee jong mans met serpe om hul gesigte en wolhandskoene aan hul hande oorweldig is toe sy uit haar badkamer gekom het.

“Hulle het vir my op ’n stoel in my slaapkamer met elektriese koorde vasgebind en deur al wat ’n kas en laai is, gekrap op soek na waardevolle items.

“Terwyl hulle my besittings so uit die kaste uitgooi, het ek nog vir hulle uitgeskel en gevra hoekom hulle sulke stout dinge aanvang.”

Terwyl die jong mans verder deur die huis geplunder het, het Bouwer vorentoe geval terwyl sy haarself probeer loswikkel het en haar kop teen ’n televisiestel oopgestamp.

“Die een seun het vir my terug op die stoel getel en vir my sneesdoekies gegee om die bloed van my voorkop af te vee.

“Nou besef ek hoekom, want ek het vasgestel dat hy die seun van ’n vrou is wat ek dikwels met geld of kos gehelp het.

“Die seun was onlangs hier en het vir R50 gevra wat hy nodig het om matriek te skryf. Ek het vir hom egter ’n R100 gegee.

“Ek weet sy ma woon in Fairyland en sy is nie gesond nie. Hy is blykbaar op skool in Khayelitsha.”

Met ’n bebloede gesig en hande en voete styf vasgemaak is Bouwer egter nie gestuit nie.

“Ek het besef dat ek lank so gaan sit as ek nie vinnig ’n plan maak nie.”

Sy het in haar doel geslaag om haarself te bevry en die alarm te aktiveer.

“Hulle het teruggekom en ’n mes teen my keel gehou, vir my op die bed neergegooi en weer vasgemaak. Hulle het ’n sokkie in my mond probeer druk, maar gelukkig was dit ’n skoon een.

“Mens kon sien dat hulle nie deskundiges op die gebied van huisbraak is nie, want hulle was maar lomp en het gesukkel om die koord vas te maak.”

Die jong mans is uiteindelik verwilder deur ’n sekuriteitsbeampte wat op die alarm gereageer het en hulle het slegs met ’n selfoon die hasepad gekies.

“Die polisie en veiligheidsbeamptes was vinnig hier en die skelms is naby my huis in hegtenis geneem.”

’n Koffiepot-oortreksel is op die kombuisvloer gevind waarin die rowers kontant en lekkers gebęre het om saam te vat. Die hele huis was omgekrap, portrette is selfs van die mure afgehaal en ornamente was van rakke afgeruk.

“Dit was die ergste, om als wat hulle deurmekaar gekrap het weer aan die kant te maak.

“Maar wat vir my die heel seerste maak, is dat ek vir die een seun en sy ma dikwels finansieel gehelp het as hulle aan my deur kom klop het.”

Thembinkosi Mbelu en Siphiwo Vundiso, albei agtien jaar oud, van Kaapstad is in verband met die voorval in hegtenis geneem.

* An eighty-year-old woman was attacked in her home by two young men.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za