Tiener se raaiseldood
2007-07-12
’n TIENERMEISIE van Franschhoek is onder raaiselagtige omstandighede dood, toe sy Saterdagnag skielik gehospitaliseer is.
Chanté Hoffman (18) het dié aand by haar ma gekla van ’n geweldige pyn op die bors.
Haar ma, Alfreda Fortuin, het vertel dat toe die pyn al hoe erger raak, het sy die ambulans ontbied en Chanté is na die Stellenbosch hospitaal geneem.
“Hier moes ons lank wag voordat ons gehelp is. Toe die dokter uiteindelik na haar omsien, het hy vir ’n verpleegster opdrag gegee om vir Chanté ’n inspuiting te gee.
“Terwyl ons na die saal toe is, het Chanté blou geraak in die gesig en swaar begin asem haal. Sy is kort hierna dood.”
Die rede vir haar dood sal eers vasgestel word nadat ’n volledige nadoodse ondersoek voltooi is.
Chanté was ’n kranige netbalspeler wat vanjaar by Boland Kollege besig was om matriek te voltooi.
Sy word oorleef deur haar ma en twee susters, Shanet (21) en Taylah (10), haar pa Rudolf Hoffman en stiefpa Tommy Fortuin.
Die roudiens vind Saterdagoggend om 10:00 by die Groendal-gemeenskapsaal plaas.
* A Franschhoek teenager died suddenly in the Stellenbosch Hospital.
More
News
|