Paarlberg eis tiener
2007-07-12
“EK is lief vir jou,” was die laaste woorde van ’n tienerseun aan sy meisie voordat hy sowat 20 meter na sy dood geval het vanaf Paarl-rots.
Lourens Dahms (17) het Sondagmiddag na bewering ’n stryery met ’n vriendin gehad.
Hierna het hy die hasepad gekies, sy fiets by ’n vriend se huis gelos en Paarlberg opgestap met sy laaste woorde aan vriende, “ek gaan my kop ’n bietjie skoonmaak.”
Dahms se vriendin het die aand ’n oproep van hom ontvang en hy het gesê dat van waar hy sit, kan hy sy huis in Suider-Paarl sien.
Toe sy om nege-uur dié aand weer met hom praat, het sy stem skielik weggeraak en sy het net ’n geluid gehoor asof die selfoon val. Sy het nie weer van hom gehoor nie.
Toe Dahms Maandagoggend steeds nie kontak met sy familie of vriende gemaak het nie, is hy as vermis aangemeld by die Paarl polisiestasie.
’n Gesamentlike soektog is geloods deur die polisie en verskeie reddingsdienste, asook ’n helikopter wat gebruik is om die berg te fynkam.
Daar was egter geen teken van die tiener nie, totdat ’n lid van die polisie op ’n skoen en selfoon wat in skerwe was, afgekom het onder Paarl-rots.
Met die hulp van ’n reddingshond is Dahms se lyk in ’n skeur daar naby ontdek.
Hy het ’n gebreekte been gehad asook ernstige kopbeserings.
Die vermoede ontstaan dat hy bo-op Paarl-rots gesit het en terwyl hy met sy vriendin op die selfoon gepraat het, het hy sy balans verloor, van die rots afgegly en na sy dood geval.
’n Woordvoerder van die reddingsdienste het gesê dat as Dahms se selfoon en skoen nie gewaar is nie, sou hulle nooit op sy lyk afgekom het nie, omdat dit so diep in die skeur gelê het.
Dahms is oorspronklik vanaf Citrusdal en het vanjaar as graad 10 leerder by Hoërskool Labori aangesluit.
Sy verpletterde pa, Lourens (sr), het gesê dat sy seun baie lief was vir rotsklim en hy is nie seker wat dié noodlottige aand gebeur het nie.
Dahms word oorleef deur sy pa en ma, Carien, asook ’n halfsuster Sonica (20) en halfbroers Rentia (34) en Cornel (33). Sy begrafnisdiens vind môre om 15:00 plaas by die NGK Suider-Paarl.
* Hierdie voorval wek onheilspellende herinneringe aan nog ’n tragedie wat volgens legende meer as 'n eeu gelede ook op een van Paarlberg se yslike granietrotse afgespeel het.
Hiervolgens het ’n seun ook van die kruin van ’n rotskoepel afgegly en tot binne ’n skeur geval. Hy het bly lewe, maar kon nie bevry word nie.
Sy pa het dae later vir hom noodgedwonge geskiet om te keer dat hy ’n stadige, pynlike dood sterf.
* A teenager fell to his death on Paarl Rock.
More
News
|