Delicious word uitgetrap
2007-07-12
DIE dood van ‘n speler tydens ‘n wedstryd, aan die hand van ‘n Delicious-rugbyspeler verlede jaar, het Saterdag swaar op die harte van Wellington-spelers gedruk toe een van hul manne met ‘n oopgetrapte kop bly lê het.
Losskakel Morne Pereira moes op ‘n draagbaar van Boland-stadion gedra word. ‘n Video-opname van die spel toon hoe daar herhaaldelik op die speler se kop getrap word.
Volgens Dolf Stemmet, Wellington se spanvoorsitter, het Wellington Rugbyunie die geval aan Boland Rugbyunie gerapporteer “sodat daar ‘n besluit geneem kan word oor die prosedure wat gevolg sal word”.
Nie die skeidsregter of die lynregter het ‘n kaart uitgedeel nadat Pereira deur die haker van Delicious bygekom is nie.
Pereira (20), ‘n werktuigkundige van die Paarl, het verlede jaar vir Boland o.19 gespeel voordat hy hom by Wellington aangesluit het.
Hy het Saterdag harsingskudding opgedoen en steke gekry en sal vir drie weke buite aksie wees.
Volgens Stemmet het Wellington die naweek met ‘n verswakte span teen Delicious op die veld gegaan omdat “baie spelers weier om teen dié klub te speel.”
Spelers sê: “Ons is ons veiligheid nie seker nie. Ons wil rugby speel, nie baklei nie. Hierdie ouens speel die man, nie die bal nie.”
Delicious het Saterdag die eerstespan-wedstryd met 24-10 gewen terwyl Wellington se tweede en derde spanne hul wedstryde gewen het.
Twee Delicious oud-spelers wat verbind word met die dood van die Rawsonville speler, Riaan Loots (24), verskyn 18 Julie in die kriminele hof.
More
News
|