Kind sterf voor maats
2007-07-19
’n JONG meisie het Vrydagmiddag voor die oë van haar maatjies op die Suid-AgterPaarlpad, onder ’n voertuig gesterf.
Janine Lottering (13) van Seidelberg het met ’n sesjarige seun aan die hand gehardloop na ’n trekker en sleepwa met van haar vriende toe die ongeluk gebeur het.
’n Aankomende motor was na bewering reeds langs die trekker, wat gewag het om in die Fairview plaaspad in te draai, toe die kinders voor hom beland het.
Terwyl Janine op slag gesterf het, het die seuntjie net erge skok opgedoen.
Twee jong mans, van die Paarl en Wellington, het ook die naweek in verskillende padongelukke gesterf.
Ashwin Joseph (22) van Poinsettiastraat 26, Paarl-Oos, is in die hospitaal dood kort nadat hy Saterdagnag voor 01:00 teen ’n paal gebots het in Distillerystraat.
Ashwin was van ’n mondigwordingspartytjie onderweg. Sy hartseer ouers, Peter en Marina, het hierdie week vertel van hul middelkind wat altyd gelag het en wat eersdaags oorsee sou gaan werk het.
Randall Jonathan (23) van die plaas Leeurivier buite Wellington is Sondag om 06:00 dood toe hy op die Bovleipad buite Wellington onder ’n vragmotor beland het.
Hy was ook op pad huis toe na ’n geselligheid die vorige aand. In nog ’n ongeluk is drie jong kinders Sondagaand beseer, een met ernstige hoofbeserings, toe hul ouers se motor in Dutoitskloofpas teen die bergrand gebots het.
Die ouers, ’n Thompson-egpaar wat van De Doorns na hul woning in Kaapstad onderweg was, is ongedeerd.
* A girl and two young men died in road accidents in Paarl and Wellington at the weekend.
More
News
|