Gesin verswelg
2007-07-19
Malané Bosman
’n MA het Saterdagaand in vlamme gehul uit haar woning in Wellington gekruip terwyl sy en bure hulpeloos moes aanhoor hoe haar drie kinders skreeuend in die brand vergaan.
Anneline Alkaster (30) veg steeds om haar lewe nadat sy met erge brandwonde oor haar hele liggaam in die hospitaal opgeneem is.
Haar buurvrou, Martha West, het vertel hoe sy kort voor nege in haar bed gelê het toe sy die gehuil van kinders in die houthuis langs hare gehoor het.
“Ek het gedink daar word baklei, toe gaan ek uit, maar toe sien ek die vlamme onder die deur.
“My man het die deur oopgetrap, en toe kruip Anneline uit. Die vlamme was te hoog om die kinders te red.”
Omstanders het gehoor hoe Anneline geprewel het dat sy aan die slaap geraak het met ’n brandende kers op haar bed.
Drakenstein brandweermanne was binne minute op die toneel, maar kon niks meer red uit die drie houthuise nie. Die wonings was styf teenmekaar in 'n agterplaas in St Peterslaan, Weltevrede, opgeslaan.
Martha, haar man Gerhard West en hul dogter Samantha (11) kon na veiligheid vlug. Hulle het alles verloor, elke stukkie meublement en elke greintjie klere.
So ook die inwoners van die tweede houthuis in die agterplaas. May-Louise Jonathan het saam met haar vriend Johan Kamo en haar oudste seun, Dino (8), by bure gekuier.
“Toe ons die brand sien, het ek in ons huis ingehardloop en vir Denerick (3) uitgedra. Ek het gebewe, maar ek het hom gered,” het Dino vertel.
May-Louise het haar jongste, Jason (12 maande), gegryp sekondes voordat haar huis deur vlamme verswelg is.
“My ma is buite hoop,” het ’n geskokte Laurencia Alkaster (10) Sondag tussen die steeds smeulende kole gesê. Sy was die aand by haar ouma in ’n buurhuis toe hulle van die brand hoor.
“Ek voel nie lekker nie.”
Daar word gewag met die begrafnis van Kaleano (6), Divan (4) en Luchen Alkaster (twee maande) tot daar duidelikheid oor hul moeder se toestand is.
Roland Scheepers van Begonia, Wellington, sal die begrafnisdienste kosteloos doen.
Die huislose gesinne bly tydelik by vriende en familie in St Peterslaan. Lede van die brandweer het Sondag komberse en kospakke afgelewer.
“Ons is dankbaar dat ons nog lewe. Ons wil weer ons huise opsit, maar ons het niks, absoluut niks. Die kinders het nie eens skoene aan hulle voete nie,” het Martha verslae gesê.
* Two brothers and their baby sister died at the weekend when fire gutted their mother’s shack in Wellington.
More
News
|