Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Hare waai by Boishaai

Hare waai by Boishaai
 
2007-07-19

Malané Bosman

DIE hare het Maandag - op die eerste skooldag ná die koue wintervakansie - behoorlik gerys by ‘n voorste seunskool in die Paarl.

Dis nou die haredos van meneer Richard Visagie, jare lank al waghond oor haarstyle wat in die snit sal pas van die stoer en die streng van Boishaai.

Sommer voor die saalbyeenkoms moes daar aangetree word vir haarinspeksie. En toe is die saal aansienlik leër, met 128 manne wat huis en haarsalon toe gejaag is.

Met die winterkapsels en lang sybaarde was hulle beslis nie welkom nie. Knip en kom terug, was die instruksie.

By die haarkapper gerieflik teen die grens van die skool geleë, het die seuns van agt-uur af al tou gestaan.

“Dis kort om die ore, agter mag dit nie aan die kraag raak nie en dan die kuifkwessie,” het Corlett Louw van Boots al knippend vertel.

Die oumanne wat gedink het hulle kan die vyf weke tot die matriekafskeid uit die haarwag se sig bly, het die hardste gekerm.

“Die matrieks wil afskeid hou met lang saaidies. Ons moes sowaar vandag hare op ons tande hê,” het Corlett gespot.

“Party het sommer hier ingestap met ‘n dik blou streep oor die wang waar die meneer die merk gemaak het.

“Ons kan skaars nog staan, maar ons glimlag.”

Die R35 ‘n knip het ingerol - sommer op rekening sodat niemand ‘n verskoning het nie. En Visagie hou boek.

Die haarsalon maak na elke stewige klompie skoolseuns in die knipstoel ‘n skenking aan die betrokke skool.

So het Boishaai vanjaar al drie noodhulpkissies ontvang. Sou dit wees dat die haarinspeksie en gevolglike drafstap salon toe nog ‘n paar noodhulpkissies voor Interskole sou besorg?

Nee, dis nie meneer Visagie se styl nie. Dis die skool se beeld wat hom grys hare gee.

Dan is daar die nuwe kinkel wat sy hare beslis sal laat orent staan.
Met die Mohawk styl nou hoogmode, dra die manne eenvoudig ‘n kantpaadjie in die skool.

Sodra hulle smiddags die uniform afskud, word die lang hare op die kop weer regop gewaks en gemousse en siedaar, hier loop die Mohawks vry.

Jammer ouens, nou is julle geheim op die lappe. Môre kan die meneer julle met nuwe kennis in die hare vlieg.

* Boys’ High students with holiday hairstyles were banned from attending class until they had complied with the school’s short back and sides rule



More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za