Bestuursverandering by Paarl Media
2007-07-19
PAARL MEDIA se voormalige uitvoerende voorsitter, Lambert Retief, het die rol van nie-uitvoerende voorsitter binne die Groep ingeneem om sodoende meer tyd tot sy beskikking te hê om sy persoonlike belange te bestuur.
Derhalwe het Stephen van der Walt (Hoofbestuurder) aangekondig dat Emarie Botha as die Hoof Operasionele Bestuurder aangestel is en direk aan hom rapporteer.
Emarie Botha (CA SA) was ‘n onafhanklike strategiese konsultant vir groot besighede sedert 2004, voordat sy by Paarl Media aangesluit het.
Sy het haar rekenkundige klerkskap by KPMG voltooi terwyl sy ook ‘n senior lektrise by die Universiteit van Pretoria was.
In 1994 het sy by Arthur Andersen aangesluit, waar sy verskeie uitvoerende bestuursrolle vervul het tot 2001, toe sy by Deutsche Bank as Vise-President van Korporatiewe Finansiering aangesluit het.
In 2002 het Emarie en haar eggenoot, Johan, en hul drie kinders (nou tien, agt en ses jaar oud) van Gauteng na Paarl verhuis en sy het ‘n pos by Bravura Equity Services se Gestruktureerde Finansieringsafdeling aanvaar, waar sy tot 2004 gewerk het.
Sy sê: “Die drukkersbedryf hou interessante uitdagings in en ek het baie om te leer. Die tegniese element voeg ‘n nuwe dimensie tot my vorige blootstelling.
“Ek sien daarna uit om die industrie te leer ken en Paarl Media tydens hierdie groeifase te help bestuur.”
Emarie is ‘n strategiese denker en sal waarde toevoeg deur omsigtige beplanning en haar vermoë om aandag aan fyner besonderhede te skenk.
Sy het aansienlike ervaring in die regulatoriese veld en beskik oor die vermoë om mense se potensiaal te identifiseer en ontwikkel.
Sy het ervaring in risikobestuur sowel as kwaliteitsbeheer. Emarie het voorheen in die gebied van Swart Ekonomiese Bemagtiging, ontwikkeling van telkaarte en strategieë vir gelyke indiensneming, vaardigheidsontwikkeling en sosiale verantwoordelikheid gekonsulteer.
Sy voeg by : "Ek is passievol oor gemeenskapsontwikkeling en is persoonlik by MIV/Vigs projekte betrokke. Ek poog om die skakel tussen groot besighede en gemeenskapsontwikkeling te versterk en sal graag op dié vlak ‘n impak wil maak.”
Emarie het verder die JSE Aandelemakelaarseksamen in 1998 geslaag en het ook ‘n M.Comm. in Belasting van RAU en ‘n LLB van Unisa. Sy studeer tans vir ‘n LLM in Inkomstebelasting en Korporatiewe Wetgewing van Unisa, sowel as ‘n Gevorderde Program in Risikobestuur.
Volgens Stephen van der Walt gaan die Paarl Media Groep ‘n nuwe groeifase binne.
“Ons het ons hoofkantoorstruktuur ontwikkel en versterk om seker te maak dat ons van markgeleenthede gebruik kan maak en ook die sinergieë tussen ons vyf aanlegte en met ons meerderheidsaandeelhouer, Media24, tot die maksimum kan benut. "Emarie Botha is met groot sorg vir die rol van Hoof Operasionele Bestuurder uitgesoek. Sy het ‘n sterk akademiese agtergrond en het haarself as ‘n strategiese denker bewys.
“Sy is ‘n hoogs bekwame bestuurder en het wye besigheidservaring wat tot Paarl Media se toekomstige sukses sal bydra. Ek glo dat ek op haar ondersteuning, as my tweede in bevel, kan staatmaak.”
More
News
|