Koor tree op in Wellington
2007-07-19
DIE Universiteitskoor van Stellenbosch onder leiding van André van der Merwe, tree op Vrydag 3 Augustus om 19:30 in die Kerkgebou van die N.G. Moedergemeente, Wellington op.
Die Stellenbosse Universiteitskoor is die oudste en mees gevierde koor in Suid-Afrika en het in September 2006 sewentig jaar se kooraktiwiteite gevier deur ’n feestelike reünie wat deur 400 oud-koorlede bygewoon is.
André van der Merwe is in 2003 aangestel as dirigent van hierdie koor en onder sy leiding het die koor baie hoogtepunte beleef, onder andere toe die koor in Julie 2004 aangewys is as algehele wenner van die kategorie vir Jeugkore by die Wêreldkoorspele in Bremen, Duitsland.
André van der Merwe word gereeld genooi om op te tree as kursusleier en beoordelaar reg oor die wêreld. Hy is tans ook dirigent van die bekende Stellenberg Meisieskoor wat in 2006 die titel, Koor van die Wêreld, in Llangollan in Wallis verower het, asook dirigent van die Suid-Afrikaanse Jeugkoor.
Dis ’n voorreg om na hierdie uitmuntende Universiteitskoor te luister en dit is vir Wellington n eer om hulle te ontvang.
Kaartjies vir hierdie uitvoering is beskikbaar by albei takke van W’rite Shoppe in Wellington, Ink-Net Internet Café in Lady Grey straat in die Paarl asook die aand by die deur teen R50 vir volwassenes (R20 vir skoliere, studente en pensioenarisse).
Skakel Ena Coetzee by 021-873-1400 of 072-936-7654 vir meer besonderhede.
More
News
|