Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bemagtigingsplaas in sloot

Bemagtigingsplaas in sloot
 
2007-07-26


DIE eienaars van die plaas Kweekvlei buite Wellington wag nie vir reën nie, hulle wag (moontlik tevergeefs) vir ‘n inkomste van die plaas wat onder hulle uitgeboer is.

”Die sprokie het in ‘n riller ontaard. Ons is mislei,” sê die 74 verslae aandeelhouers - almal oud-weermaglede van die SA Kaapse Korps of hul verwante.

Hulle het geglo dat die plaas, wat in 2003 deur ‘n R3 miljoen skenking van die Departement Grondsake en ‘n R2 miljoen lening deur die Landbank bekom is, hulle in aftrede sou onderhou.

Maar die realiteit was allermins soos hulle gedink het hierdie eerste Bolandse grondhervormingsinisiatief van die regering sou verloop.

Twee maande gelede is die drie trekkers, ‘n sleepwa en twee spuitpompe vir skuld opgeveil en Saterdag is die laaste plaasimplemente, asook nege beeste vir verdere skuld verkoop.

Van die 70 hektaar wingerd is 47 ouer as 30 jaar en moet vervang word. Die 300 ton druiwe wat gepars was, het tot 170 gedaal. Van die Jersey-kudde van 230 is daar net een bul en 20 koeie oor.

Die agt werkers woon in huise sonder toilette en verdien karige salarisse, betaal uit die enigste inkomste - sowat R5000 per week vir melklewering en R3000 per maand huur van die plaasbestuurder wat sedert Desember in die hoofopstal woon.

Vir verbeterings bly daar niks oor nie.

Vir elke R4 500 wat die bestuurder, Riaan Pretorius, investeer op die plaas, word hy met ‘n bees vergoed. En so krimp die stoet en daal die melkinkomste by die maand. Daar is ten minste 200 koeie nodig en die melkery moet teen R60 000 herstel word, om weer ekonomies melk te lewer.

Die aandeelhouers oordink die aanbod van R5,5 miljoen wat Pretoruis vir Kweekvlei op die tafel gesit het, maar dit was toe daar nog trekkers en implemente was. Nou het dié prentjie verander.

En niemand gaan om die tafel kom sonder ‘n ouditeursverslag - wat nie opgestel word terwyl die aangewese firma wag vir 'n R8000 deposito nie.

Voorstelle wat die projek sou kon red, word tans oorweeg deur die Landbou-ministerskantoor, aan die hand van ‘n verslag deur die regering se finansiële waghond, Casidra.

“Sodra almal gereed is, sal daar op ‘n vergadering besluit word of Kweekvlei verkoop sal word,” sê Kiepie Rogers, mentor van die Kweekvlei direksie.

“Sonder addisionele fondse is die plek nie meer lewensvatbaar nie.”

Kweekvlei, ‘n 206 hektaar plaas 10km noord van Wellington, is vier jaar gelede vir R4,8m aangekoop deur Biz Afrika 1781, met aandeelhouers uit Carterville en Wamakersvallei, Wellington.

Dit is bedryf met leiding van Alfred Cupido Business Management en vir die eerste twee jaar, met raadgewing deur die vorige eienaar, Danie le Roux.

Dis juis Cupido wat teen die plaas eis en waarvoor die bates opgeveil is. Met rente en kostes beloop dié skuld R107 000.

Vyf direkteure - Phillip Booysen en Kallie Geslin (in beheer van die wingerd), voorsitter Jacobus Fortuin (melkery), Charles Pietersen (voormalige pastoor wat as plaasbestuurder aangestel is) en Fiona Matthews (administrasie) het die plaas aanvanklik namens die lede bestuur.

‘n Jaar later het gerugte van ongerymdhede, ook grootskaalse bedrog, die ronde gedoen. Die direkteure is op die plaas deur die werkers aangehou oor agterstallige lone en onregmatige aftrekkings.

‘n Bees is geslag om die arbeiders te paai.

Voorsitter Fortuin het Kiepie Rogers, ‘n voormalige raadslid van Wellington met ‘n geskiedenis van lopies met die gereg, om hulp genader. Met sy firma Boland Facilitation Services sou Kiepie fondse beding - vir 6% kommissie.

‘n Nuwe direksie (voorsitter Gert Warries, Denise Hendricks, Valerie Hendricks, Dawid Baardman en Arrie Adams) het die leisels oorgeneem.

In 2005 het Rogers vir die kleinboere van Kweekvlei ‘n skenking van R830 000 bewerkstellig deur Charles Erasmus van die Suid-Afrikaanse Wyninstituut Trust (SAWIT).

Die 74 aandeelhouers het vir die eerste keer in vyf jaar dividende ontvang, uitbetaal as ‘n kruidenierswarebewys van R1000 plus R2000 kontant elk.

Oor wat van die res van die geld geword het, bespiegel aandeelhouers vandag.

Daar word beweer dat die eerste direksie breed glimlag oor nuwe geld in die bank, dat van die tweede span direkteure breed sit in nuwe motors en dat hul mentor gebruikreg geneem het van die plaas se vragmotor en bakkie.

“Die firma wat die besigheidsplan geskryf het, het baie leuens vertel,” kap Rogers terug.

“Hulle het R400 000 weg en drie jaar later is die wingerd eensklaps 30 jaar oud en moet vervang word. Die eerste direksie was onkundig.

Hulle het gedink hier kry hulle ‘n plaas verniet, maar net om die lening aan die Landbank te dek, beloop R260 000 per jaar.

“Die rooi ligte is aan. Ons is onderdeur.”

Prokureur André du Plessis wat deur die eerste faksie aangestel is, eis vandag R340 000 teen die plaas. Hy het verlede jaar 15 Desember ‘n tydelike likwidasiebevel teen Kweekvlei in die hof gebring.

Die regsgeleerde vir die tweede faksie, Ivan de Villiers, kon die direksie nie verteenwoordig nadat Du Plessis hom vir onprofessionele gedrag, as synde ‘n botsing van belange, by die Regsgenootskap verkla het nie.

Rogers het deur Kaapstadse regsverteenwoordiging die likwidasiesaak teengestaan. Die eis is voorlopig teruggetrek.
Ook uitstaande is R50 000 aan ‘n gifstofmaatskappy, met die grootste som skuld van R2,3 miljoen aan die Landbank.

En terwyl visarende hierdie week nog rustig oor die dam op die Kweekvlei draai, het voorsitter Gert Warries die laaste woord: “Die plaas moes so goed geboer gewees het dat daar vir die mense wat nou in hokke bly, op die plaas voorsien kon geword het. Maar nou lyk dit nie asof dit sal gebeur nie.”

* The Wellington farm obtained by former members of the SA Defence Force with a government land grant, the first of its kind in the Boland, has collapsed.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za