Alles te weet oor 'Uniwrsityt'
2007-07-26
DIE bekendstelling van die boek “Uniwrsityt - Wat jy moet weet”, saamgestel deur oud-Gimmie Johan Fourie, vind plaas Woensdag 22 Augustus op Stellenbosch.
Fourie, ’n lektor by die Departement Ekonomie van die Universiteit van Stellenbosch, was bekommerd omdat minder as ’n kwart van alle eerstejaars hul studies binne vier jaar voltooi.
Dié statistiek skets ’n donker prentjie van Suid-Afrikaanse tersiêre opvoeding.
“En tog kan mens se universiteitslewe soveel meer wees. Dit is ’n plek waar jy jouself kan ontdek, waar jy leer waarvan jy hou, waarin jy glo, selfs hoe om die wêreld ’n beter plek te maak,” sê Fourie.
“Dis ’n plek waar jy beste vriende maak, en nie net buddies nie, hegte, egte vriende.
“Dis ’n plek waar jy hom of haar ontmoet, die één. Dis ’n plek waar jy mense leer ken wat jy oor 27 jaar in ’n kroeg in Parys (Europa óf Suid-Afrika) raakloop en saam ’n bier op die goeie tye drink.”
Wat gebeur werklik op universiteit, wat moet jy weet om van jou universiteitslewe ’n sukses te maak, of watter kursus pas die beste by jou?
In hierdie omvattende eerste uitgawe van “Uniwrsityt” word hierdie vrae deur top akademici beantwoord.
Onder die skrywers van hoofstukke is Willie Esterhuyse, Tim Noakes, Ruda Landman, Jonathan Jansen, Marinus Wiechers en Theuns Eloff.
Vir meer besonderhede, skakel 082-517-8044.
More
News
|