Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Warm Afrikaners

Warm Afrikaners
 
2007-07-26


DIE Afrikaanse Taalmuseum en ander organisasies in die Paarl span vanjaar weer saam om ’n interessante en uiteenlopende program aan te bied vir Afrikaansweek (13 tot 19 Augustus).

Hierdie jaar se feesprogram is propvol gepak met teater- en musiekvertonings, ’n letterkundevasvra, tradisionele Kaapse geregte en praatjies deur bekendes.

Die fees open op Maandag 13 Augustus by die Drakenstein Biblioteeksaal in Paarl-Oos met ’n letterkundevasvra aangebied deur die Afrikaanse Skrywersvereniging.

’n Hoogtepunt op die Afrikaansweekprogram is die Taalmuseum se eerste Mathews Phosa-lesing op Dinsdag 14 Augustus.

Dr Phosa, die bekende digter en politieke aktivis, sal die stand van Afrikaans bespreek in ’n toespraak getiteld ‘13 jaar na 1994: Afrikaans en transformasie - waar staan ons nou?’

By hierdie geleentheid sal gaste ook ’n begeleide toer deur die museum onderneem. ’n Spesiale wyn sal bekend gestel en ten bate van die Taalmuseum verkoop word.

Die Dameskring bied op Woensdag 15 Augustus ’n inspirerende eenvrouvertoning, Venster vol Son, aan in die Ou Meulteater met Marianne Kitching in die hoofrol.

Op Donderdagaand 16 Augustus kan feesgangers luister na Petro Rhode van Radio KC en ander plaaslike skrywers en musikante by Oppie Stoepe in Paarl-Oos tydens ‘Met Vers en Melodie’.

Sarie se bekende rubriekskrywer, André le Roux, sal as spreker optree op Vrydag 17 Augustus by ’n Vroueoggendtee aangebied deur die Dameskring by die Toring Kerksaal in die Paarl.

Die bekroonde wynmaker Beyers Truter kuier ook Vrydag 17 Augustus by ’n sop-en-broodaand vir 55-plussers.

Met sy groot passie vir rooiwyn, is Truter wyd bekend as die Pinotage koning. Die tema van die geleentheid is Pinotage praat Afrikaans en sal plaasvind in die saal van die NG Gemeente Agter-Paarl.

Begin die dag met koek, koffie en sjokolade-musieknote op Paarlberg op Saterdag 18 Augustus.

Die Taalmonument Restaurant sal op dié dag ’n smaaklike vonkelwynontbyt voorsit terwyl Marissa van Zyl ontbytgangers vermaak met ’n vertoning oor die geskiedenis van Afrikaanse musiekopnames.

Kaapse kuierkos is Sondag 19 Augustus op die spyskaart.
Smul in die Taalmonument Restaurant aan 'n tradisionele driegangmaaltyd, bedien met Boland Kelder wyn , terwyl Koos Koegelenberg sy trekklavier speel.

Die Taalmuseum neem ook vanjaar deel aan die Shirazfees wat op Saterdag 18 en Sondag 19 Augustus by Nederburg plaasvind. Alle soettande na die verskil tussen 'n koeksister en 'n koesister proe by die Taalmuseum se stalletjie.

Die volledige Afrikaansweekprogram is beskikbaar by www.taalmuseum.co.za of by 021-872-3441.



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za