Swak diens van Paarlse motorhawe
2007-07-26
EK het onlangs Auto Nantes Tweedehandse Motorhandelaars in Hoofstraat, Noorder-Paarl, besoek. Ek en die verkoopsman was besig met die detail van die transaksie om ‘n voertuig by hulle te koop toe ek ingelig word dat ‘n ander verkoopsman reeds ‘n deposito by ‘n Ceres kliënt geneem het.
Dit nadat ek en my vrou spesiaal tyd moes afneem by ons werke om die voertuig vir ‘n toetsrit te neem in ‘n tydgleuf wat Auto Nantes pas. My verkoopsman was nie bewus van die Ceres kliënt nie. Dit laat mens wonder oor die kommunikasie tussen hulle personeel.
Hulle sou my kontak indien die kliënt besluit om nie die voertuig te neem nie, aangesien ek nou tweede in lyn staan om die voertuig te koop.
Nodeloos om te sê ek is nie gekontak nie. Ek moes hulle skakel om te hoor dat die volle verkoopprys wel in hulle rekening inbetaal is. My vrou het hulle ook geskakel en met die spesifieke verkoopsman gepraat om haar ongelukkigheid oor te dra. ‘n Week later besigtig ons ‘n soortgelyke voertuig by ‘n Brackenfell handelaar na aanleiding van ‘n koerantadvertensie.
Groot was my verbasing om te sien dat dit presies dieselfde voertuig is wat kwansuis aan die Ceres kliënt by Auto Nantes verkoop is.
Volgens die Brackenfell handelaar is die voertuig op “consignment” by hulle. Die verkoopsman het verduidelik dat dit gewoonlik gebeur wanneer die handelaar van wie hulle die voertuig ontvang, dit nie kon verkoop kry nie.
Dit is baie snaaks, want ons het tog op die punt gestaan om die voertuig te koop toe die kamtige Ceres kliënt ons voorgespring het. Toe steeds was ons tweede in lyn en het steeds belang gestel, en Auto Nantes was heeltyd bewus daarvan.
Toe ek Auto Nantes se verkoopsman konfronteer, was hy duidelik uit die veld geslaan en moes vinnig aan ‘n verskoning dink.
Hy het eerstens gevra hoe ons weet dit is dieselfde voertuig. Ons het die voertuig twee keer toetsbestuur en Auto Nantes se stempel is op die diensrekord.
Sy verweer was: “Die Ceres transaksie kon dalk deur die mat geval het, hy sal moet gaan ondersoek instel.”
Hoe is dit moontlik as die volle koopsom in hulle bankrekening inbetaal is soos deur hom bevestig? En indien dit dan die geval was, hoekom is ek nie gekontak nie?
Hy kon my nie antwoord nie.
Wat dan nou ook al die rede is hoekom hulle nie die voertuig aan my wou verkoop nie, hoekom nie eerlik wees nie?
As hulle hieroor oneerlik is, waaroor is hulle nog oneerlik?
Die beste van alles is dat ek nou Brackenfell toe moet ry om presies dieselfde voertuig teen R5000 meer te koop, as gevolg van ‘n spul blatante leuens.
Gerald Scholtz
Franco de Villiers van Auto Nantes Paarl reageer: Ons doelwit is om eerlike betroubare diens te lewer. Ek was nie bewus dat mnr en mev Scholtz so graag by ons ‘n voertuig wou koop nie. Ons wil dankie sê aan alle kliënte vir hul lojale ondersteuning die afgelope elf jaar.
More
News
|