Kavaliers val kort teen Haaie
2007-07-26
Jacques Rossouw
TEN spyte van die 26-12 nederlaag wat die Boland Kavaliers Saterdag op Boland-stadion teen die Haaie van Durban gely het, kan dié span met trots hul bors uitstoot met hul helde-vertoning teen een van die sterker unies in die Curriebeker-reeks.
Die besoekers moes wel sonder van hul sleutelspelers (beserings en Bok-verpligtinge) klaarkom, maar het nietemin ’n sterk span op die veld gestuur.
Die Bolanders het nie net hul staal gedurende die eerst helfte ten toon gestel nie, maar ook hul doelgerigtheid om ’n positiewe merk in Suid-Afrika se premier rugbykompetisie te maak.
Die hele span verdien ’n pluimpie vir uitstekende verdediging, maar kan dalk ’n bietjie skaam voel oor die onnodige hanteerfoute wat hulle sekerlik nóg punte gekos het.
Neem die Haaie se twee vinnige drieë vroeg in die tweede helfte uit die prentjie en die Bolanders se poging lyk ewe indrukwekkend, indien nie meer nie.
Boland het hul teenstanders se verdediging gereeld op die proef gestel. Die lostrio het die bal goed gedra en die agterlyn het vir groot opwinding gesorg met hul breekslae en bereidwilligheid om te hardloop.
Die opwindende losskakel Isma-eel Dollie blyk ’n groot aanwins vir die Kavaliers te wees.
Sy skopwerk is van hoë gehalte en dis duidelik dat voormalige Springbok-losskakel en hulp-afrigter Louis Koen se invloed vrugte afwerp.
Dollie is ook nie skaam om bietjie been te wys nie en het met ’n paar goeie lopies en breekslae vorendag gekom.
Boland kan egter baie ongelukkig voel om nie ’n bonuspunt uit die wedstryd te kon neem nie, veral na twee goeie oorwinnings vroeër dié maand.
Die Kavaliers kom Saterdag om 15:00 teen Griekwas in Kimberley te staan.
More
News
|