Hare waai oor skorsing van munisipale bestuurder
2007-08-02
May Saal
DIE Drakenstein Munisipaliteit se raadslede het mekaar verlede week aangevat oor die wettigheid van die spesiale vergadering waar die oorspronklike besluit geneem is om die munisipale bestuurder, dr Sidima Kabanyane, te skors.
“Daar is ’n uiters belangrike besluit geneem om die munisipale bestuurder te skors. Waar is die kennisgewing en notules van die spesiale raadsvergadering wat gehou is tydens die raad se reses,” wou raadslid JT Basson (ANC) baie ontstoke weet by die raadsvergadering op Donderdag 26 Julie.
Dit was met verwysing na ’n spesiale vergadering wat in die eerste week van Julie gehou is, waar ’n besluit geneem is om Kabanyane tydelik te skors.
Volgens ANC raadslede is almal nie in kennis gestel van die vergadering nie en die vergadering het in die resesperiode van die Raad geskied.
Raadslid Deetlefs du Toit (DA) het reageer en gesê dat daar geensins ’n vergadering gehou is nie.
“As die burgemeester met twee of drie lede van sy burgemeesterskomitee in konsultasie is, beteken dit nie dat dit ’n vergadering is nie,” aldus Du Toit.
Raadslid Thomas du Plessis (ANC) het dit sterk beklemtoon dat die Raad mislei word in hierdie verband.
“Daar is aan die notules van die Burgemeesterskomitee aangeheg dat daar ’n spesiale raadsvergadering gehou is. So, hoe kan daar nou gepraat word van ’n konsultasie?” wou Du Plessis weet.
Die voormalige burgemeester, Charmaine Manuel, het haar ook sterk uitgespreek oor die aangeleentheid en aangevoer dat daar ’n geheime vergadering gehou is waar ’n baie belangrike besluit geneem is.
Raadslid Dan Kotze het daarop aangedring dat die dokumentasie aangaande die skorsing van Kabanyane aan alle raadslede voorsien moet word.
Die Speaker, Billy Ross, het aangevoer dat die notules oor hierdie vergadering na alle raadslede versprei sal word.
“Die burgemeester, Koos Louw, is nou terug en sal sorg dat die notules van hierdie vergadering na die volle Raad verspei word. Dus sal ons nie verder ’n debat voer oor hierdie aangeleentheid nie.
* The ANC tackled the DA/ID coalition in a council meeting last week, over the absence of minutes concerning the recent suspension of the municipal manager, Dr Sidima Khabanyane..
More
News
|