Slagting in Lady Greystraat
2007-08-02
Lise Beyers
DIE bloed het letterlik oor die nat paaie van Lady Greystraat gevloei Saterdagoggend toe ’n jong man met sy voertuig in vier voetgangers ingeploeg het.
Die Paarlse middedorp het nog skaars begin woel toe die treurspel plaasgevind het.
’n Jong man het ooswaarts in Lady Greystraat afgery toe hy blykbaar beheer oor sy voertuig verloor het en tussen ’n groep voetgangers op die sypaadjie by Dischem ingery het.
Vier mense is deur die toonvenster van dié gewilde apteek geslinger. Een vrou se voet is van haar liggaam afgeskeur met die slag.
Hierna het Lady Greystraat tot stilstand gekom, met mense wat saamgedrom het op die toneel terwyl reddingswerkers na die beseerdes omgesien het.
’n Lid van die middedorp-buurtwag, Elizabeth McKenzie, was een van die eerstes wat die slagoffers te hulp gesnel het.
“Ek het met my rug na die toneel gestaan, skuins oorkant die straat by die Wimpy. Ek het skreeuende bande gehoor en net toe ek omdraai, sien ek hoe ploeg die bloedrooi voertuig tot binne-in Dischem se ruit.
“Ek kon sien dat hy mense getref het en is dadelik na die toneel. “Met skok het ek besef dat die een vrou wat daar lê en bloei, ’n bejaarde vrou is met wie ek op straat bevriend geraak het.
“Ek het altyd vir haar mammie genoem en ons het lekker gesels as sy inkopies in die dorp gedoen het,” vertel ’n geskokte McKenzie. “Terwyl ek daar gehelp het, het my bril afgeval en dit is in die gewoel stukkend getrap.
“Ek werk heeldag in Lady Greystraat en dis skokkend hoe vinnig mense hier jaag.”
Die ergste beseer was Ria Theron (76) van Bredahof, wie se bene in die slag gebreek is en ’n voet afgeruk is. Sy is kort na haar aankoms by die Paarl Hospitaal oorlede.
Die ander beseerdes, Thembinkosi Nquma, Priscilla Geswind en Nicolene Martin, is met ernstige beserings ook na die Paarl Hospitaal geneem.
Die bestuurder van die Ford Sierra, Abdhul Kozain (20), het vertel dat hy dié oggend vir sy ma by ’n skoenwinkel in Lady Greystraat gaan aflaai het en was op pad terug na Paarl-Oos.
“Ek het stilgehou by die rooi verkeerslig naby Dischem en toe ek wegtrek, voel ek dat my motor begin regs swaai in die aankomende verkeer in. Ek het links geswenk, maar toe swaai die motor oor die sypaadjie.”
Kozain het ’n nekbesering opgedoen.
Die bestuurder van Dischem, Kevin Sterling, het gesê dat dit ’n groot skok vir sy personeel was om so iets te ervaar, maar hulle het nie gehuiwer om die beseerdes by te staan nie.
“Talle van ons personeellede is steeds getraumatiseer deur die gebeure. Alhoewel dit ’n baie ernstige voorval was, kon dit soveel erger gewees het as dit later die oggend plaasgevind het, toe die dorp tot oorlopens toe vol was.”
Theron, ’n weduwee, word oorleef deur haar seun, Riaan, van Kaapstad. Sy word begrawe vanuit die Toringkerk 10:00 vandag.
* Lady Grey Street came to a halt on Saturday morning when a car hit four people and smashed through a shop front, killing one.
More
News
|